Laat die Eindtye jou sweet?
Deur Dr. David R. Reagan
“En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en die mense se harte beskwyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word.” (Lukas 21:25-26)
Ons lewe in ‘n wêreld wat vasgevang is in vrees. Onder alle segmente van die samelewing en al die nasies oor die hele wêreld heen, is daar hierdie donker voorgevoel dat ons almal besig is om reguit aan te marsjeer na een of ander rampspoedige voleinding van geskiedenis
Die nuus is vol van berigte van geweld wat toeneem - rooftogte, ontvoerings, kindermishandeling, terrorisme, oorloë, en gerugte van oorloë. Ons word ook gebombardeer met ‘n eindelose stroom van natuurlike rampe soos aardbewings, hongersnood, orkane, vloede, en brande. En die toenemende onsedelikheid bring steed nuwe siektes voort wat die mens se bestaan bedreig.
Dit is ook noemenswaardig dat al hierdie skrikwekkende dinge gebeur in die konteks van ‘n wêreld wat goed bewapen is met kern wapens. En om dinge te vereger is hierdie wapens wat soveel skade kan verrig, nou besig om te versprei na onverantwoordelike wettelose nasies soos Iran en Noord Korea. Dit los ons met reuse wapens in die hande van morele pigmeë.
Intussen, gaan die nasies van die wêreld aan om hulle geld uit te mors, stapel skuld op skuld, wat die weg voorberei vir ‘n kolossale wêreldwye ekonomiese ineenstorting.
Die Realiteit van Vrees
Gedurende die Groot Depressie, het Amerikaanse President Franklin Roosevelt ‘n moedelose nasie bymekaar probeer bring deur te verklaar, “Daar is niks om te vrees nie, behalwe vrees self.” Hierdie woorde voel waardeloos vandag, terwyl ons teen menigte werklike en ongekende vrese te staan kom.
Dit is geen wonder dat mense bang is nie. Hulle is bang om hulle werke te verloor, hulle huise, en die spaargeld wat hulle opsy gesit het. Hulle vrees vir hul persoonlike welstand, die veiligheid van hulle kinders, en die sekuriteit van hulle nasie. Hulle is bang vir die vooruitsig van skrikwekkende plae en die potensiële verwoestende siviele wanorde. En in die agtergrond bly die moontlikheid van ‘n kernkrag ramp.
Mense is desperaat opsoek na sekuriteit. Hulle koop gewere en maak hulle huise meer veilig met elektroniese toestelle. Hulle pas hul leefstyle aan om hulle te beskerm teen die geweld van rowers en siektes soos Vigs. Hulle draai na Oosterse gelowe en populêre sielkunde om troos vir hulle siele te vind.
Toenemende vrae
Soos wat die wêreld voor ons oë vergaan, bevraagteken selfs Christene die neigings. Toenemend vra Christene vrae soos: “Is God in beheer? Gaan die bose wen? Is daar regtig enige hoop?”
Die goeie nuus is dat God in Sy genade en barmhartigheid klaar die antwoorde op hierdie vrae amper drie duisend jaar gelede aan ons gegee het toe Hy tot die hart van ‘n jong skaapwagter genaamd Dawid ben Jesse gepraat her. Hy het die seun ‘n gedig gegee wat kort, oulik, kragtig, en vol van hoop was. Dit bevat ‘n boodskap wat ‘n bang wêreld broodnodig het om vandag te hoor.
Die gedig kom uit die Hebreeuse Bybel. Dit word Psalm 2 genoem. Kom ons kyk ‘n bietjie daarna.
Heersers Maak ‘n Bespotting van Sy Wil
Anders as meeste van die psalms, het Psalm 2 nie ‘n opskrif wat die skrywer daarvan identifiseer nie. Maar ons weet dat dit deur Dawid ben Jesse geskryf is omdat Lukas, geÏnspireer deur die Heilige Gees, Dawid as die skrywer geïdentifiseer het in Handelinge 4:25.
Die psalm begin met die skrywer die wêreld se kondisie betreur:
1 Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge?
2 Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde en sê:
3 Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!
(Psalm 2:1-3)
Die taal wat in hierdie verse gebruik word is is bietjie styf , so laat ek probeer om dit in meer moderne taal te verduidelik.
Die psalmdigter vra die vraag: “Here, hoekom is dit dat oral waar ek in die wêreld kyk is daar onrus in die nasies? Hoekom is hulle altyd besig met een of ander ydel ding wat die mens verheerlik - dinge soos die toring van Babel, die Romeinse Ryk, die Volkebond, die Vereenigde Nasies? Hoekom is dit, Here, dat die presidente, en die eerste ministers, en die konings van die aarde altyd saamsweer teen U en U gesalfde Een, Jesus? Hoekom is dit dat die wêreld se politieke leiers altyd sê, ‘Kom ons skuif die limiete van God se Woord opsy en gooi Sy wette weg en doen wat ons goeddink!’”
Soos wat jy kan sien, het niks in drie duisend jaar verander nie. Soos in die tyd van Dawid, is die nasies vandag nogsteeds in opstand teen die Here. En daarom is Psalm 2 steeds net so relevant, asof dit gister geskryf is.
Ondersoekende vrae
Een ding wat jy moet verstaan van Psalm 2 is dat die vrae wat Dawid aan die begin stel, nie gevra was om antwoorde van God te kry nie. Dawid het reeds die antwoorde geken.
Hierdie is retoriese vrae, gevra met die doel om mense se gedagtes te laat gaan. Hulle is ontwerp om die leser te motiveer om te dink oor die aard van die wêreld waarin hulle woon, en om dit te doen in reaksie op wat God se Woord openbaar oor die wêreld.
Ek sê dat Dawid die antwoorde op die vrae geweet het, omdat die antwoorde in die boek van Genesis beantwoord word. Dawid sou bekend gewees het met Genesis sowel as die res van die Torah - die eerste vyf boeke van die Hebreeuse Geskrifte - selfs al was dit net deur die traditionele mondelinge oordrag.
‘n Fenomenale Geskenk
As jy terug dink aan die eerste blaaie van Genesis, sal jy onthou dat God ‘n ongelooflike geskenk aan Adam en Eva gegee het kort na hulle skepping.
God het vir hulle iets op ‘n silwer skottel gegee waarna Hitler gesmag het. Hy het hulle iets gegee waaroor Stalin gedroom het, wat die Romeine na verlang het, en Alexander die Grote amper reggekry het. God het hulle heerskappy oor die hele aarde gegee. (Genises 1:27-28)
Maar kort nadat Adam en Eva hierdie geskenk ontvang het, het hulle dit weer verloor. Toe hulle teen God in opstand gekom het, het Satan sy kans gevat en die heerskappy wat vir die mens bedoel was, gesteel.
Satan het die prins van hierdie wêreld geword. Dit is hoekom Jesus na hom verwys as “die owerste van hierdie wêreld” (Johannes 12:31). Dit is die rede waarom Satan vir Jesus kon versoek met die aanbod van “al die koninkryke van die wêreld” as Jesus hom net sou aanbid het (Matteus 4:8-10). Dit sou nie ‘n egte versoeking gewees het as die koninkryke nie Satan sin was om weg te gee nie.
Selfs na die Kruis, het die apostel Johannes geskryf dat “die hele wêreld in die mag van die bose lê” (1 Johannes 5:19). Die Kruis het die uiteindelike lot van Satan vasgemaak, maar daardie lot sal nie beleef word todat Jesus weer kom en Satan onder die voete van die Here se volk vermorsel word nie (Romeine 16:20).
God se Sowereiniteit
Die feit dat Satan regeer as die prins van hierdie wêreld beteken nie dat God beheer verloor het nie. Satan is nie almagtig nie. Hy het nog altyd geopereer binne perke wat opgestel is deur God.
Die oudste boek in die Bybel, die boek van Job, begin met die prentjie van Satan wat voor God se troon staan om toestemming te kry om Job te teister (Job 1:6-11). God gee hom toestemming om aan alles wat Job besit te raak, maar nie om sy lewe te neem nie (Job 1:12).
Satan was verder beperk deur die Kruis, want van daardie tyd af het gelowiges die Heilige Gees as inwoner gehad, en odat “Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is” (1 Johannes 4:4).
Die boek van Daniël maak dit duidelik dat God is die een wat nasies oprig en afbreek. Soos Daniël dit stel, “Hy [God] sit konings af en stel konings aan” (Daniël 2:21). Paul bevestig dit in die Nuwe Testament wanneer hy praat van “die magte wat oor hom gestel is” en verder “daar is geen mag behalwe van God nie” (Romeine 13:1).
Maar die anderkant van die saak is die feit dat die oomblik wanneer God iemand in ‘n posisie van regerende gesag plaas, kom Satan teen daardie persoon en probeer in elke moontlike manier om hulle te korrupteer en die persoon te laat kompromieë aangaan sodat hy op die ou end Satan se doel dien.
Dit maak nie saak of die persoon ‘n skool raadslid, die goewerneur van ‘n provinsie, of die president van ‘n nasie is nie. Satan probeer om alle regerende owerhede te beheer. Daarom word ons so ernstig versoek om te bid “vir konings en almal wat hooggeplaas is” (1 Timoteus 2:1-2).
Satan se Verwoesting
Die Bybel getuig van hierdie nimmer eindige siklus van God wat aanstel en Satan wat aanval. Dink byvoorbeeld aan die tragiese storie van Saul, die eerste koning van Israel. Sy begin was so belowend, met die spesiale salwing van God se Gees wat hom selfs in staat gestel het om saamet die profete te profeteer. (1 Samuel 10:1,6,9-11).
Maar Satan het dadelik Saul se trots aangemoedig en hom met ‘n gees van melancholie aangeval wat hom tot depressiewe episodes gedryf het. Uit trots het Saul “dwaas gehandel” en veronderstel dat hy vir homself die pligte van die priesters kon aangeneem (1 Samuel 13:8-13). In sy depressiewe toestand het hy na mediums en hekse gegaan vir advies, eerder as om op die profete van God staat te maak. Die tragiese resultaat is dat die Gees van God hom verlaat het (1 Samuel 16:14), en Saul het selfmoord gepleeg op die slagveld (1 Samuel 31:4).
Op ‘n soortgelyke manier het Salomo sy heerskappy begin op sy knieë voor die Here, waar hy ‘n spesiale salwing van wysheid en kennis ontvang het (2 Kronieke 1:7-12). Sy toekoms het so helder gelyk.
Maar Satan het teen hom gekom en hom met wêreldse rykdom verlei. Salomo se draaipunt het gekom in die jaar wat hy 666 talente goud ontvang het (1 Konings 10:14). Van toe af het hy obsessief geraak oor drie dinge: rykdom, vroue, en militêre mag (1 Konings 11:1-8). Op die ou end het hy “gedoen wat wat verkeerd was in die oë van die Here” (1 Konings 11:6).
Die ryk het opgebreek na Salomo se dood, en gedurende die 209 jaar geskiendenis van die noordelike ryk van Israel, was daar nie een koning wat as goed in God se oë gesien was nie. Die suidelike ryk van Juda het ‘n honderd jaar langer bestaan, maar gedurende sy drie honderd jare is slegs 8 van sy 20 konings as regverdig deur die Here geag.
Die Voortdurende Stryd
Met die opening van die Nuwe Testament vind ons dat die toutrek tussen God en Satan voortduur. Satan inspireer Koning Herodus om al die babas in Betlehem dood te maak in ‘n poging om die Messias by Sy geboorte te stop.
Later, orkestreer Satan ‘n sameswering tussen regerende owerhede wat mekaar gehaat het. Hy bring die Romeinse goewerneur en die Joodse Sanhedrin saam, en deur hulle gesamentlike pogings word die Messias vermoor.
Satan se triomf was natuurlik van korte duur, want die oorwinning van die Messias se opstanding het dit oorkom. Maar Satan was nie afgeskrik vir lank nie. Hy het sy aanhoudende aanvalle op God se soewereiniteit hernu deur ‘n intense vervolging van Sy volgelinge te loods.
Toe Satan besef het dat die vervolging van die Kerk dit net laat versprei en sterker laat word het, het hy sy strategie aangepas - hy het die kerk en die staat laat trou en so die kerk gekomprimeer. Dit het rondom 331 n.C. gebeur en dit merk die begin van die donker eeue toe die kerk aan die staat onderdanig geword het. Die kerk was maklik deur die wêreld ingeneem en die politieke strewe het belangriker geraak as die getuienis van Jesus.
Maar ons is dankbaar teenoor God dat Jesus ‘n belangrike belofte aangaande Sy kerk gemaak het. Hy het belowe dat “die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Matteus 16:18). Sodat selfs gedurende die donkerste jare van die Middeleeue, was daar altyd ‘n getroue oorblyfsel wat deur die Gees van God bewaar is.
Uiteindelik het die dag aangebreek wat Martin Luther sy tesis teen die deur vasgespyker het en vir ‘n terugkeer na God se Woord gevra het. Satan was weereens op die verdediging geplaas soos wat die kerk hervorming begin ervaar het en sendelinge regoor die wêreld begin uitstuur het.
Die Konflik van Ons Tyd
Soos wat die 20ste eeu aangebreek het, het Satan weer terug gegaan na sy verdedigende posisie. Hy het een van sy grootste oorwinnings georkestreer met die geboorte van Kommunisme in Rusland in 1917. Satanisme het ‘n belangrike deel geword van die ateïstiese ideologie van die Kommuniste soos wat hulle probeer het om beide die kerk en God se Woord te vernietig.
Terselfdertyd het Satan ‘n interne aanval op die Westerse demokrasië geloods deur die filosofieë van Sekulêre Humanisme nuwe lewe te gee. Die Joodse-Christelike stigting van Westerse Beskawing kom onder direkte aanval van binne terwyl die Kommuniste aanval het van buite af.
Die Kommunistiese bedreiging het inmekaar geval asgevolg van die gewig van hulle eie interne teenstrydighede. Maar Satan gee nie gelowiges ‘n oomblik om te rus nie. Hy hou aan om Sekulêre Humanisme te bevorder, en hy het ‘n herlewing van Islam teweeggebring.
Die Fokus van die Konflik
Satan se opposisie teen die hervestiging van die nasie van Israel is meskien die duidelikste voorbeeld van sy vasbeslotenheid om sy heerskappy uit te oefen in opposisie teen God se will.
Dwarsdeur die Ou Testament beloof God menigmale dat Hy in die eindtyd die Joodse mense van die vier hoeke van die wêreld weer bymekaar sal maak in die land van Israel (kyk na Jesaja 11:10-12 en Esegiël 36:22-37:12). God openbaar dat Sy doel is om ‘n magtige werk te doen in die harte van die Jode wat tot gevolg sal hê dat ‘n oorblyfsel Sy Seun as hulle Messias sal aanvaar (Sagaria 12:10, 13:1 en Romeine 9:27, 11:1-6, 25-32).
Satan haat hierdie doel van God omdat hy die Joodse mense met ‘n passie haat. Sy haat word aangevuur deur die feit dat God die Joodse mense as ‘n voertuig gebruik om al die nasies van die wêreld te seën. God het deur die Jode die Skrif aan ons gegee en ook die Messias.
Satan is vasbeslote om die Joodse volk te vernietig sodat God nie sy belofte kan hou om ‘n oorblyfsel na verlossing te bring nie. Dit is die rede hoekom Satan deesdae orkestreer dat al die nasies van die wêreld teen Israel is. God het ‘n nasie opgerig wat Satan, as prins van hierdie wêreld, vas van plan is om te vernietig.
Woede teenoor Gelag
Ek is persoonlik woedend oor Satan se menigte probeerslae om God se wil in Israel, en oor die hele wêreld heen, te stuit en te verslaan. Ek voel gereeld so gefrustreerd dat ek wil roep, “Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie” deur U Seun terug te stuur om te regeer in glorie en majesteid en regverdigheid en geregtigheid?” (Openbaring 6:10)
Die enigste manier wat ek my woede kan bedwing, is om myself te herinner aan wat God besig is om in die Hemel te doen terwyl ek kwaad raak oor Satan se planne hier op aarde. Weet jy wat die Geskrifte sê is God besig om te doen?
Hy lag! Hy is besig om te lag. Ja, God sit op Sy troon en hy lag - nie omdat Hy nie omgee nie, maar omdat Hy die wêreld se gebeure onder beheer het. Dit mag dalk moeilik wees om te glo, maar ek kan dit aan jou bewys. Kom ons kyk weer na Psalm 2.
God Lag
4 Hy wat in die hemel woon, lag;
die Here spot met hulle.
5 Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn,
en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik:
6 Ék tog het my Koning gesalf
oor Sion, my heilige berg.
(Psalm 2:4-6)
God lag vir Satan en vir al die politici wat saamet hom werk wanneer hulle probeer om Sy doeleindes in geskiedenis te stuit. Hy lag vir drie redes.
Eerstens, die gedeelte sê in die Engelse New American Standard Bible se 95 vertaling, “the Lord scoffs at them.” Die Hebreeus hier beteken letterlik dat “die Here bespot hulle.”
Kortliks beteken dit dat dit maak nie saak wat Satan doen nie, God sal daartoe sien dat dit terugslaan in sy gesig tot die glorie van Jesus. Psalm 76:11 sê dat selfs “die grimmigheid van die mens” sal deel wees van wat vir God loof.
Satan se Frustrasie
Satan moet die mees gefrustreerde persoonlikheid op planeet aarde wees. Al sy konkel en planne werk op die ou end nie uit nie. Al sy komplotte ontrafel een of ander tyd.
Die klassieke voorbeeld is die Kruis. Satan het gedink dat hy sy grootste oorwinnng behaal het. In plaas daarvan was dit ‘n nederlaag. God het geskiedenis se mees duistere gebeurtenis geneem en dit verander in iets majestueus deur die krag van die opstanding.
In die Eerste Wêreldoorlog het Satan dit reg gekry om ‘n konflik van ‘n ongeëwenaarde bloedbad te bewerkstellig, maar God het deur die bose van daardie oorlog gewerk om ‘n geestelike doel te bereik. Hy het die land genaamd Palestina van die Turke bevry en dit in die hande van die Britte gelewer wie dadelik verkondig het dat dit die tuisland van die Jode sal wees.
Op dieselfde manier, gedurende die Tweede Wêreldoorlog, het God gewerk deur die ongelooflike bose van Satan se Holocaust om die Joodse mense voor te berei vir hulle tuisland. Hulle het na die Holocaust gesê, “Nooit weer nie! Nooit weer nie! Ons gaan ons eie land hê, ons eie nasie, ons eie staat.” Dus het honderde duisende van hulle begin terugkeer na Israel toe.
God het die Eerste Wêreldoorlog gebruik om die land reg te maak vir die mense. Hy het deur die Tweede Wêreldoorlog gewerk om die mense reg te maak vir die land.
God sit in die hemele en lag terwyl Satan wriemel in frustrasie.
‘n Dag van Woede
Die tweede rede waarom God lag is omdat “Hy sal hulle aanspreek in Sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik” (Psalm 2:5). Hierdie stelling verwys na die feit dat God ‘n dag aangewys het wanneer Hy met al die koninkryke van die wêreld en hulle politieke leiers sal handel deur Sy toorn uit te stort deur die wederkoms van Sy Seun, Jesus die Messias.
Paulus het gepraat van hierdie betekenisvolle dag tydens sy preek op Mar se koppie in Atene: “God…verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.” (Handelinge 17:30-31).
Ou Testamentiese profete het dikwels oor hierdie dag gepraat. Hulle noem dit “die dag van die Here” (Joël 2:1). Die profeet Sefanja het dit beskryf as “‘n dag van grimmigheid, ‘n dag van benoudheid en angs, ‘n dag van woestheid en verwoesting, ‘n dag van duisternis en donkerheid” (Sefanja 1:15). Hy sê dat die Here sulke benoudheid oor mense sal bring dat hulle wankelrig deurmekaar rond sal loop, soos blinde mense (Sefanja 1:17).
Satan se Valse God
Hierdie dag van toorn wat God reserveer vir die opstandige nasies van die wêreld en hulle leiers is een van die bes bewaarde geheime in die heelal. Satan wil nie hê dat enige iemand moet weet van dit nie. In sy poging om dit weg te steek het hy ‘n vals beeld van God gemaak wat beide Christene en ongelowiges flous.
Die vals god waarin Satan wil hê ons moet glo is ‘n god wat maklik beinvloedbaar is - ‘n swakkeling, wat beskryf kan word as “die kosmiese teddiebeer”. Hy is groot en warm en sag en snoesig. En wanneer ons voor hom staan om beoordeel te word, gaan hy sy arm om ons sit, ons nader aan hom trek, en sê, “Ek weet dat jy nooit My Seun aanvaar het as jou Here en Redder nie, maar dit is okei, want jy was ‘n baie beter mens as die ellendeling wat af in die straat van jou gebly het. So kom jy maar My koningkryk binne en geniet die ewige lewe saam met My.”
So ‘n ruggraatlose god bestaan nie. Hy is ‘n wrede klug wat deur Satan uitgedink is. Almal van ons staan veroordeel voor die ware God, want “ons almal het gedwaal soos skape” (Jesaja 53:6). Ons enigste hoop is deur ons geloof in Jesus (Romeine 3:21-24). God gradeer nie op die kurwe nie, en Hy is ook nie 'n dwaas wat maklik om die bos gelei kan word nie. God kan nie mislei of bespot word nie (Galasiërs 6:7).
Ja, God is vol van genade en barmhartigheid (Psalm 86:15), en Hy wil nie hê dat iemand moet vergaan nie (2 Petrus 3:9), maar Hy is ook 'n God van volmaakte geregtigheid, regverdigheid en heiligheid - en as sodanig kan Hy nie sonde verdra nie.
God moet met sonde handel, en Hy doen dit met genade of met toorn. Daarom het Johannes die Doper verklaar dat elke mens op aarde onder óf die genade van God óf Sy toorn is (Johannes 3:36).
‘n Komende Heerskappy
Die gedeelte in Psalm 2 dui op 'n derde rede waarom God lag. God verduidelik dit deur te sê: “Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg” (Psalm 2:6).
Die bewoording hier is baie interessant. God praat van 'n toekomstige gebeurtenis - die Duisendjarige heerskappy van Jesus - asof dit 'n voldonge historiese feit is. Hierdie vreemde manier om van die toekoms te praat asof dit verlede is, is 'n baie algemene kenmerk van Bybelprofesie – so algemeen, om die waarheid te sê, dat teoloë 'n woord daarvoor uitgedink het. Hulle noem dit "proleptiese" spraak.
Sulke spraak is in besonder kenmerkend van God in die Skrif. Die rede is dat God nie in tyd is soos ons nie. Ons is op 'n tydlyn. Ons het 'n verlede, 'n hede en 'n toekoms. God is buite tyd. As Hy iets wil, word dit volbring, of dit al in die geskiendenis gebeur het soos ons dit ken, of nie.
Neem byvoorbeeld die kruisiging van Jesus. Vir ons het dit 2 000 jaar gelede aan die buitewyke van Jerusalem gebeur het - en dit het, soos wat ons tyd waarneem. Maar wanneer het die kruisiging plaasgevind soos God tyd sien? Die Bybel sê dat Jesus doodgemaak is “van die grondlegging van die wêreld af” (Openbaring 13:8) want dit is wanneer God dit bestem het, ooreenkomstig met Sy wil en voorneme
Die proleptiese beginsel word die beste deur God self uitgedruk in 2 Konings 19:25 - “Het jy dit nie gehoor nie? Van lankal het ek dit gereedgemaak, van die dae van die voortyd af beskik. Nou het ek dit laat kom.”
Maar kom ons keer terug na ons punt. Die punt is dat God in die hemele sit en lag vir die rebelse koninkryke van die aarde, want Hy het bepaal dat sy Seun eendag binnekort sal terugkeer as “Koning van die konings en Here van die here” (Openbaring 19:16) om oor die hele aarde te heers en dit in onderwerping te bring aan God se volmaakte wil (Jesaja 9:6-7).
'n Onvervulde Belofte
Hoe weet ons dat dit 'n proleptiese stelling is - dat alhoewel dit in die verlede tyd gestel word, dit 'n belofte is wat nog nagekom moet word? Die antwoord is voor die hand liggend — daar is geen vervulling in die geskiedenis nie. Regeer Jesus vandag as Koning van die konings vanaf die berg Sion in Jerusalem? Het Hy al ooit?
Daar is diegene wat redeneer dat Hy geestelik oor die nasies van die aarde heers. Indien wel, dan doen Hy nie 'n baie goeie werk nie, want die aarde word oorheers deur bose rebellie teen God.
As jy in ag neem wat die Bybel sê die kenmerke van die Here se heerskappy oor die aarde sal wees, is dit maklik om te sien dat die heerskappy nog in die toekoms lê. Jesaja 11 sê die heerskappy sal gekenmerk word deur geregtigheid, regverdigheid en getrouheid. Is dit kenmerke van nasionale regerings vandag? In daardie selfde hoofstuk sê Jesaja “die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9). Hoe kan iemand redeneer dat so 'n profesie vervul is? Die belofte van God in Psalm 2 dat sy Seun eendag oor die hele aarde sal heers, lê nog in die toekoms. Die Koning kom! Die konings van die aarde leef op geleende tyd. Hulle planne en sameswering gaan aan, maar hul lot is verseël. So, God sit in die hemel en lag.
Jesus Verkondig
Die volgende woordvoerder in Psalm 2 is Jesus self. Hy maak 'n wonderlike proklamasie oor die toekoms, waarin Hy Sy Vader se voorneme bevestig om Hom as die Koning van die konings te vestig:
7 Ek wil vertel van die besluit: Die Here het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer.
8 Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting.
9 U sal hulle verpletter met 'n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos 'n erdepot.
(Psalm 2:7-9)
Die Verwekte Een
Jesus begin sy verkondiging deur die Vader se belofte aan Hom te herhaal - dat Hy eendag van die berg Sion af sal regeer oor “die uiterste van die aarde” Dit is 'n belofte wat ongetwyfeld terugdateer na die grondlegging van die wêreld self. Ek sê dit omdat die Bybel vir ons sê dat Jesus vooraf bekend was as die Verlosser wat Sy bloed sou vergiet “voor die grondlegging van die wêreld” (1 Petrus 1:19-20. Openbaring 13:8 en Efesiërs 1:4)
Omdat Jesus die waardige Lam is wat geslag is vir die sondes van die mens (Openbaring 5:9), is Hy die enigste een wat in aanmerking kom om te heers oor God se skepping. In daardie sin is Hy die “eniggebore” (Johannes 1:14,18) - die enigste Gesalfde van God wat gemagtig is om namens die Vader op te tree as die Regent van planeet aarde.
Hierdie sin van betekenis word weerspieël in die engelse Living Bible vertaling se parafrase van Jesus se proklamasie:
“I will reveal the everlasting purposes of God, for the Lord has said to me, ‘You are my Son. This is your Coronation Day. Today I am giving you your glory. Only ask, and I will give you all the nations of the world'” (Psalm 2:7-8).
Let daarop dat die stelling, “Today I have begotten You,” (vandag het Ek self U gegenereer) word omskrywe om die werklike betekenis voor te stel: “This is your Coronation day”. "Dit is jou kroningsdag." Daarom kon Jesus Homself tot die kerk by Filadelfia rig as die een “wat die sleutel van Dawid het” (Openbaring 3:7). Hy is die vervulling van die Dawidiese Verbond en sy belofte:
“Ek het ‘n verbond gesluit met my uitverkorene,
met ‘n eed aan Dawid, my kneg, belowe:
Tot in ewigheid sal ek jou nageslag bevestig
en jou troon opbou van geslag tot geslag.”
(Psalm 89:4-5)
Weereens, hou in gedagte dat die Vader se belofte aan Jesus nog vervul moet word. Onthou, Jesus was “van die grondlegging van die wêreld af…die lam wat geslag is” (Openbaring 13:8) want dit is wanneer die Vader dit bestem het, ooreenkomstig met sy wil en voorneme. Maar die Vader se wil het eers duisende jare later ’n historiese werklikheid geword. Net so is Jesus gekroon vanaf die grondlegging van die wêreld - ook omdat die Vader dit toe bestem het - maar dit is 'n gebeurtenis wat nog in die geskiedenis moet plaasvind.
Die Rolle van Jesus
Die eerste keer toe Jesus gekom het, het Hy gekom as ons Lydende Verlosser (Jesaja 53). Na Sy opstanding het Hy ons Hoëpriester geword (Hebreërs 4:14-16). Hy gaan vandag steeds voort in daardie hoedanigheid en dien as die middelaar van ons gebede voor die troon van God (Hebreërs 8: 1-2). Maar een van die dae sal Hy terugkeer, en wanneer Hy doen, sal Hy terugkeer as ons Glorieryke Koning om te heers oor al die nasies van die wêreld (Openbaring 19:16).
Jesus dien nie nou as 'n koning nie. Hy word nooit uitgebeeld as die huidige koning van hierdie wêreld of die koning van die kerk nie. Sy verhouding met die kerk word uitgebeeld as die van ‘n kop vir die liggaam (Efesiërs 5:23) of as ‘n bruidegom en Sy bruid (Openbaring 19:6-9).
Jesus is 'n kroonprins. Dis soos die situasie wat vir baie jare in die lewe van Dawid geheers het. Dawid is deur Samuel as koning van Israel gesalf. Maar Dawid moes baie jare wag voordat hy gekroon is. Net so is Jesus as Koning van die konings en Here van die here gesalf, maar Hy sal nie as sodanig in die geskiedenis gekroon word voordat Hy terugkom aarde toe nie.
'n Ongelooflike Erfenis
Wanneer Jesus wel terugkeer, sal die beloftes van Psalm 2 aan Hom vervul word. Die eerste van daardie beloftes is dat Hy die aarde sal beërwe - “die eindes van die aarde” sal Sy besitting word (Psalm 2:8).
Daar is 'n gewilde mite dat wanneer Jesus terugkeer die aarde sal verbrand en ophou om te bestaan. Dit kan nie waar wees nie, want die Bybel bevestig dat die aarde is “ewig” (Psalm 148:6, Psalm 78:69, en Prediker 1:4).
Dit is waar dat die aarde radikaal verander sal word wanneer die Here terugkeer. Die agente van verandering sal aardbewings en bonatuurlike verskynsels in die hemele wees (Openbaring 6:12-13). Ons word vertel dat elke eiland verskuif sal word en dat elke berg verlaag en elke vallei verhef sal word (Openbaring 6:14 en Jesaja 40:4). Die prentjie wat geteken word, is een van die aarde se oppervlak wat glad gemaak word, met Jerusalem wat opgelig word om die hoogste punt op die planeet te word (Miga 4:1).
Die aarde sal ook verfris word. Die woestyne sal blom (Jesaja 35:1, 6-7). Die heuwels sal “drip van mos” en “vloei van melk” (Joel 3:18). Die oorvloed van landbou produkte sal so groot wees dat “die ploeër die maaier inhaal” in die sin dat 'n nuwe oes so vinnig geplant sal word as wat die ou oes geoes kan word (Amos 9:13). Selfs die Dooie See sal lewendig word en wemel van visse (Esegiël 47:8-9).
Die diereryk sal ook herstel word. Ons word vertel dat diere wat karnivore is herbivoor sal word. Dus, “die leeu eet strooi soos die os” (Jesaja 11:7). Hierdie verandering sal die diere in staat stel om in vrede met mekaar en met die mens saam te leef. “Dan wei die wolf by die lam” (Jesaja 11:6), en “die suigeling speel speel by die gat van ‘n adder” want die adder sal nie meer giftig wees nie (Jesaja 11:8).
Die Ewige Aarde
Selfs wanneer die Millennium eindig, sal die aarde nie ophou bestaan nie. In plaas daarvan sal die fundamentele aard daarvan weer verander word. Hierdie keer sal die agent van verandering vuur wees.
God sal die verlostes van hierdie planeet af wegneem en ons in die Nuwe Jerusalem plaas. Van daardie uitkykpunt sal ons kyk hoe die Here die aarde oorverhit en die besoedeling van Satan se laaste opstand wegbrand.
Dan, soos 'n warm bol was, sal die Here dit hervorm, en uit daardie vlammende inferno sal 'n nuwe aarde kom, 'n volmaakte aarde, 'n aarde wat vir ewig as ons tuiste sal dien (Openbaring 21:1).
Mede-erfgename
God het belowe om daardie verloste planeet aan Sy Seun en aan Sy mede-erfgename te gee – naamlik diegene wat Jesus as hulle Here en Verlosser aangeneem het. In Psalm 2 beloof Hy die aarde aan Sy Seun. In Psalm 37:11, brei Hy daardie belofte uit na die verlostes: “Die ootmoediges sal die aarde besit”. Hierdie belofte word herhaal in verse 22, 29 en 34.
Hierdie beloftes is dié waarna Jesus in Sy Bergpredikasie verwys het toe Hy gesê het: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.” (Matteus 5:5). Paulus het dieselfte belofte uit die Abrahamitiese Verbond herken toe hy geskryf het dat God se belofte aan Abraham en sy nageslag (deur geloof) is dat hulle “erfgenaam van die wêreld sou wees” (Romeine 4:13).
'n Wêreldwye heerskappy
Die tweede belofte wat die Vader in Psalm 2 aan sy Seun maak, is 'n natuurlike uitvloeisel van die eerste. Nie net sal Jesus die aarde beërwe nie, maar Hy sal ook daaroor heers: “Ek wil nasies gee as u erfdeel…U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf” (Psalm 2:8-9).
Jesus kom om te heers. Dit is een van die temas wat die meeste herhaal word in die Skrif, van begin tot einde. En weer, die verlostes sal mede-erfgename van hierdie belofte wees. Ons sal saam met Jesus regeer.
Hierdie waarhede is aan Daniël uitgebeeld in 'n reeks visioene wat hy snags gesien het. In een het hy die “Seun van ‘n mens” sien verskyn voor die “Oue van dae” en toe heerskappy en ‘n koningkryk ontvang wat ingesluit het “al die volke en nasies en tale” (Daniël 7:13-14). En dan is daar aan Daniël gesê dat “die heiliges van die Allerhoogste” sou die koningkryk ontvang en sou “die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel” uitoefen (Daniël 7:18,27).
In die boek van Openbaring belowe Jesus dat Hy die oorwinnaars “mag oor die nasies” sal gee en dat hulle sal heers oor die nasies - “regeer met ‘n ysterstaf” (Openbaring 2:26, 27).
In Openbaring 4, wanneer Johannes weggeraap word na die Hemel en homself in die troonkamer van God bevind, hoor hy hoe die hemelse leër 'n loflied vir Jesus sing. In die lied word die stelling gemaak dat diegene wat deur die bloed van die Lam verlos is, 'n koninkryk gemaak is, en “sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:9-10).
Die Heerlikheid van die Here
En wat sal die doel van dit alles wees? Daar is baie redes vir die Duisendjarige heerskappy van Jesus. God gaan daardie tydperk gebruik om beloftes te vervul wat Hy aan die nasies gemaak het, aan die natuur, aan 'n oorblyfsel van die Jode en aan die Heiliges. Maar die fundamentele doel is om Sy belofte aan Sy Seun te vervul dat Hy eendag in die geskiedenis verheerlik sal word, net soos Hy in die geskiedenis verneder is.
Hierdie belofte is 'n aanhoudende tema van die Skrif. Dit is die kern van die Vader se belofte in Psalm 2, en dit weerklink deur die hele Bybel, in beide die Hebreeuse Geskrifte en die Nuwe Testament.
“Vanweë die skrik van die Here en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil” sê die profeet Jesaja dat wanneer die Here terugkom, alle trotse mense sal verneder word, en “die Here alleen sal in dié dag verhewe wees” (Jesaja 2:10-11). Die Here se Naam sal geëer word, en Hy sal genoem word “Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors” (Jesaja 9:5). Hy sal terugkeer om Sy heerlikheid voor Sy Heiliges te openbaar (Jesaja 24:23) en voor die nasies van die wêreld (Jesaja 66:18).
Paulus bevestig hierdie doel van die Here se wederkoms in 2 Tessalonisense 1:10 waar hy verklaar dat Jesus terugkeer “om verheerlik te word in sy heiliges” en “bewonder te word in almal wat glo”.
Die Gees Waarsku
Psalm 2 begin met Dawid wat as 'n profeet praat, wat treur oor die manier waarop die wêreld se heersers met die Here spot. Dit gaan voort met die Here wat lag oor die flou pogings van mense om Sy wil te verydel. Volgende is daar 'n verkondiging van Jesus waarin Hy sy Vader se belofte aankondig - dat Hy, die Seun, eendag oor al die koninkryke van die wêreld sal triomfeer.
Die psalm sluit af met 'n waarskuwing deur die Heilige Gees:
10 “Wees dan nou verstandig, o konings;
laat julle waarsku, o regters van die aarde!
11 Dien die Here met vrees,
en juig met bewing.
12 Kus die Seun, dat Hy nie toornig word
en julle op die weg vergaan nie;
want gou kan sy toorn ontvlam.”
(Psalm 2:10-12a)
Die Gehoor
Die Gees se waarskuwing is gerig aan die konings en regters van die aarde. Dit is 'n plegtige oproep aan die politieke leiers van die wêreld om hulself reg te ruk, regte besluite te maak en vir hulself en hul nasies aan die Here se wil te onderwerp voordat Hy in toorn uit die hemele bars.
Ongelukkig lyk dit of hierdie ernstige waarskuwing vir ewig op dowe ore en verharde harte val. Die waarskuwing is 3 000 jaar gelede uitgespreek, en die gierige smag na mag en politieke korrupsie duur vandag steeds onverpoosd voort. Die wêreld se politieke leiers hou aan om hul neus vir God op te trek en met Sy Gesalfde te spot.
Maar ‘n dag van afrekening (Jesaja 2:12) kom vinnig nader, en wat 'n dag sal dit wees! Die boek van Openbaring sê dat op daardie dag “die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges…” hulle sal wegkruip in grotte en sal uitroep na die rotse van die berge: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam” (Openbaring 6:15-16).
Die Here het die uitstorting van sy toorn uitgestel omdat Hy nie wil hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom (2 Petrus 3:9). Maar daar is 'n grens aan die Here se geduld, en terwyl Hy wag, “Hy behou die toorn teen sy vyande” (Nahum 1:2). Die Here is dalk stadig om kwaad te word, maar “nooit laat die Here ongestraf bly nie” (Nahum 1:3).
Maar die Gees se waarskuwing is nie net vir die politieke leiers van die wêreld is nie. Die waarskuwing is ook gerig op die verlostes, want — soos ek reeds uitgewys het — ons sal eendag dien as die konings en regters van hierdie wêreld. Laat die verlostes dus kennis neem van wat ons geroep is om te doen terwyl ons op die Here se wederkoms wag.
‘n Oproep tot Aanbidding
Eerstens word ons geroep om “die Here met vrees te dien” (Psalm 2:11). (In die New American Standard Bible se1995 hersiende weergawe, wat in die oorspronklike Engelse artikel gebruik is, is die woord “dien” vervang met die woord “aanbidding. Dus volg die skrywer se volgende woorde. ) Die Hebreeuse woord hier is eintlik "dien" eerder as "aanbid". Maar ek hou van die gebruik van die term, aanbidding, omdat dit beklemtoon dat ons uiteindelike aanbidding van die Here uitgedruk word in hoe ons Hom dien.
Ons dink so dikwels aan aanbidding slegs in terme van wat ons doen wanneer ons korporatief saamkom as 'n gemeente van gelowiges. Moet my nie verkeerd verstaan nie – korporatiewe aanbidding is uiters belangrik. Ons is geskep om God te aanbid (Deuteronomium 6:13) en God soek aktief mense wat Hom in gees en waarheid aanbid (Johannes 4:23).
Maar die eintlike, belangrikste aanbidding word uitgedruk in wat ons doen wanneer ons die gemeente verlaat en na die wêreld terugkeer. Kan diegene wat met ons in aanraking kom sien dat ons in die teenwoordigheid van die Here was? Keer ons terug van aanbidding “om ons huisgesin te seën” soos die geval in koning Dawid se lewe was? (2 Samuel 6:20)
Het jy 'n passie om God te aanbid? Begeer jy om Hom te vier vir wie Hy is en wat Hy gedoen het? En wil jy daardie aanbidding uitdruk nie net met die lof van jou lippe nie, maar met die arbeid van jou liggaam en die geld wat jy verdien het?
Nog een ding — Verstaan jy dat jy eendag binnekort voor die Here sal staan en daar oor jou werke geoordeel sal word?
‘n Oproep tot ‘n Ongewone Vorm van Blydskap
Die toekomstige oordeel wat ons oor ons werke in die gesig staar, is die rede vir die Gees se ongewone manier waarop Hy Sy volgende opdrag uitdruk. Hy roep ons om te “juig met bewing” (Psalm 2:11).
Het jy al ooit daaraan gedink watter vreemde opdrag dit is? 'n Persoon wys gewoonlik vreugde deur te lag, dans, sing of hande te klap. Hoe jubel ’n mens deur te bewe?
Ek dink die opdrag hou verband met die spanning wat in die Skrif bestaan tussen genade en werke. Ons is uit genade gered, en ons moet ons daaroor verheug en oor die voltooiing van ons verlossing (die verheerliking van ons liggame) wat ons sal geniet wanneer die Here terugkom. Maar terselfdertyd moet ons bewe oor die vooruitsig om voor Jesus te staan om ons werke te laat beoordeel.
Daar is beide goeie en slegte nuus oor die Here se komende oordeel van die verlostes. Die goeie nuus is so goed dat baie Christene dit moeilik vind om te glo, maar dit is nietemin waar. Die ongelooflike goeie nuus is dat die verlostes nie oor hulle sondes geoordeel sal word om te bepaal of hulle die ewigheid in die hemel of die hel sal deurbring nie.
Die rede is natuurlik dat ons reeds oor ons sondes geoordeel is. Daardie oordeel het by die Kruis plaasgevind toe al ons sondes – verlede, hede en toekoms – op Jesus geplaas is, en Hy die toorn ontvang het wat ons verdien.
Dis hoekom die Bybel leer dat as jy bedek is deur die bloed van Jesus, jou sondes vergewe en vergete is (Jesaja 43:25 en Hebreërs 8:12). Hulle is uit die teenwoordigheid van die Here verwyder “so ver as die ooste verwyderd is van die weste” (Psalm 103:12-13). Soos Corrie ten Boom altyd gesê het: “Die Here het ons sondes in die diepste deel van die see geplaas, en Hy het 'n bord daar opgesit wat sê, 'Geen visvang nie!’” (Kyk na Miga 7:19)
Wat beteken dit dat die Here ons sondes “vergeet”? Dit beteken dat hulle nooit weer teen die verlostes gehou sal word met betrekking tot die bepaling van hul ewige bestemming nie. Daarom kon die skrywer van Hebreërs met vertroue beweer dat wanneer Jesus 'n tweede keer verskyn, sal Hy kom en “sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid” (Hebreërs 9:28).
Dus, as ons sondes vergeet is, wat sal die aard van ons oordeel wees wanneer ons, die verlostes, voor die Here staan? Dit bring ons by die slegte nuus wat ons behoort te laat bewe. Ons gaan geoordeel word oor ons werke, nie om ons ewige lot te bepaal nie, maar om ons grade van beloning te bepaal. En met betrekking tot ons werke, sal ons tekortkominge en mislukkings onthou word.
Hierdie nuus kom as 'n groot skok vir die meeste Christene, omdat meeste blykbaar onbewus daarvan is dat hul werke enige betekenis het, en ander besef weer nie dat daar grade van beloning sal wees nie.
Grade van beloning
Die konsep van grade van beloning word duidelik in die Skrif uitgespel. In 1 Korintiërs 3:8 sê Paulus “Elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang.” Hy sê dan dat ons werke deur die Here getoets sal word om die kwaliteit daarvan te bepaal (1 Korintiërs 3:13). Hy dui aan dat sommige in werklikheid gered sal word soos mense wat amper uit die vuur geruk is! Dit is omdat hulle werke nie die toets van die Here se “vuur” (Sy oordeel) sal deurstaan nie. Hy kom dus tot die gevolgtrekking, “as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen” (1 Korintiërs 3:15).
Van die laaste woorde wat Jesus op hierdie aarde gespreek het, het te doen gehad met grade van beloning. Daardie woorde is opgeteken in Openbaring 22:12 - “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.”
Die Oordeel van Werke
Hoe sal die Here ons werke oordeel? Watter kriteria sal Hy gebruik?
Ek glo die beginpunt sal die gawes van die Gees wees wat ons ontvang het toe ons wedergebore is. Die Woord leer dat elke verloste op die oomblik van sy redding ten minste een gawe van die Gees ontvang (1 Korintiërs 12:7 en 1 Petrus 4:10). Sommige ontvang meer as een gawe, en sommige kan addisionele gawes ontvang soos wat hulle groei in die Here, veral as hulle goeie rentmeesters van hul aanvanklike gawes is (Matteus 25:14-30).
Ek glo die Here sal vir elkeen van ons vra hoe ons die gawes wat Hy vir ons gegee het gebruik het vir die bevordering van Sy koninkryk. En dan glo ek Hy sal ons werke toets in terme van kwantiteit, kwaliteit en motief.
Wat van jou? Weet jy watter gawes die Gees jou gegee het? Gebruik jy hulle om die koninkryk te bevorder? En is jou motiewe suiwer? Dien jy die Here in die krag van Sy Gees vir die doel van Sy heerlikheid?
‘n Oproep tot Toewyding
Terwyl ons op die Here se wederkoms wag, moet ons “dien die Here met vrees” en ons moet “juig met bewing”. Die derde ding wat die Gees ons roep om te doen volgens die New American Standard Bible se1995 hersiende weergawe - “do homage to the Son” (Psalm 2:12).
Wat die Hebreeus hier eintlik sê is baie duidelik maar word selde letterlik vertaal omdat dit so vreemd klink. Letterlik sê die Hebreeuse woorde “soen die Seun”, of soos die 53 Arikaanse vertaling dit stel, “kus die seun” (Psalm 2:12).
Ek het jare lank gewonder wat daardie woorde beteken. Ek het kommentare geraadpleeg en baie vermoedelike antwoorde gevind, maar nie een van die antwoorde het in my gees sin gemaak nie. So, ek het aanhou bid dat die Here vir my die ware betekenis van die woorde sal wys.
Eendag, terwyl ek die boek Hosea gelees het, het die Gees skielik 'n vers op my hart gedruk wat my die antwoord gegee het waarna ek gesoek het. Die vers word in hoofstuk 13 gevind.
Aan die begin van die hoofstuk het Hosea pas sy predikingsreis deur Israel voltooi waarin hy die volk roep om hulle van hul afgodery te bekeer. Toe hy tuis kom, vind hy tot sy afgryse, 'n buurman wat voor 'n silwer kalf buig, en hy roep toe uit: “Die mense wat offer, vereer kalwers met kusse!” (Hosea 13:2)
Toe ek daardie woorde lees, het die Gees tot my gees getuig. Ek het dadelik aan die woorde van die psalmdigter gedink: “Kus die seun!” Skielik het hierdie vreemde stelling vir my heeltemal sin gemaak.
Jy sien, as Hosea vandag gelewe het en vir ons oor Amerika kon preek, dink ek hy sou sê: “Ek het deur jou land gereis om sy geestelike temperament te soek, en ek sê vir jou, oral waar ek gaan, vind ek mans wat kalwers soen!”
Behalwe, ek vermoed dat hy dit in moderne taal sou stel: “Oral waar ek in hierdie land gaan, vind ek mans wat CD rekeninge soen in die bank, verchroomde motors en walghalsige huise. Ek sien mans verlief op geld, mag en roem. Ek sê vir jou, neem alles wat die wêreld jou kan bied, sit dit opsy in 'n rommelhoop, en stel God eerste in julle lewens. Raak verlief op Jesus!”
Dit is wat “Kus die Seun!” beteken. Dit is 'n oproep om jou lewe aan Jesus oor te gee deur op Hom verlief te raak en Hom eerste in jou lewe te stel - bo jou loopbaan en familie. Dit is 'n oproep om Hom die Here te maak van alles in jou lewe - jou gesin en werk, jou hoop en drome, jou gedagtes en woorde, jou musiek, leesstof, kos, drank, ontspanning - alles!
Deur Hom jou toevlug te maak, sal jy verlos word van die toorn wat kom (Romeine 5:9 en 1 Tessalonisense 5:9), en jy sal die volle betekenis van die laaste reël van Psalm 2 leer ken: Hoe geseënd is almal wat by Hom skuil!
Die Boodskap
God is op Sy troon. Hy is in beheer. Drieduisend jaar gelede het Hy die mensdom belowe dat sy Seun in die geskiedenis sal seëvier. Hy werk tans daardie doel in die geskiedenis uit.
God het die wysheid en die krag om al die boosheid van die mens te orkestreer tot die oorwinning van Jesus. Dit lyk dalk asof die wêreld buite beheer is, maar wat ons ervaar is die doodsnikke van 'n verslete wêreld en die geboortepyne van 'n nuwe een.
Eindtydgebeure kan vreesaanjaend van aard wees. Maar gelowiges kan vrede en vertroosting vind in die versekering van Psalm 2 - dat Satan verslaan sal word en Jesus sal triomfeer as Koning van die konings en Here van die here.
Die tekens van die tye vertel ons dat Jesus by die poorte van die Hemel is, gereed om enige oomblik terug te keer om Sy kerk uit hierdie wêreld te neem. Hou jou oë op Jesus gerig. Leef met 'n ewigheidsperspektief. Rus in die vertroue dat terwyl bose mense konkel en Satan planne maak, God op Sy troon in die Hemel sit en lag.
Die oorspronklike artikel kan gevind word by: https://christinprophecy.org/articles/the-message-of-psalm-2/
In hierdie artikel word die Ou Afrikaanse Bybel vertaling (1933/53) vir alle Afrikaanse bybel aanhalings gebruik.