Dink na oor die Ewigheid
Deur Dr. David R. Reagan
Een van die grootste staatsamptenare in die geskiedenis van Engeland was William Gladstone (1809 – 1898), wat gedurende die laaste helfte van die 19de eeu vier keer as Eerste Minister gedien het.
Gladstone was 'n toegewyde Christen wat altyd die kerk bygewoon het. Hy het ook as volwassene 'n Sondagskool klas aangebied. Trouens, sy doel vroeg in sy lewe was om 'n Anglikaanse kerkleier te word, maar ná sy graduering aan Oxford het sy hardkoppige pa daarop aangedring dat hy die politiek betree.1
Gladstone het kort voor sy dood 'n toespraak gelewer waarin hy vertel het dat hy besoek is deur 'n ambisieuse jong man wat sy raad oor die lewe gevra het. Die jong man het vir die ouer staatsman gesê dat hy hom meer bewonder as enige iemand anders wat nog lewe, en sy raad wou inwin oor sy loopbaan.2
'N MERKWAARDIGE ONDERHOUD
"Wat hoop jy om te doen wanneer jy jou studies aan die kollege voltooi het?" het Gladstone gevra.
Die jong man het geantwoord: "Ek hoop om regte te gaan studeer, meneer, net soos u het."
"Dit is 'n eerbare doelwit," het Gladstone geantwoord, " en wat dan?"
“Ek hoop om reg te praktiseer en 'n goeie naam vir myself te maak om die armes en die uitgeworpenes van die samelewing te verdedig, net soos u gedoen het.”
"Dit is 'n eerbare doel ," het Gladstone geantwoord. "En dan wat?"
"Wel, meneer, ek hoop om eendag vir die Parlement te staan en 'n dienaar van die mense te word, net soos u het."
“Dit is ook 'n eerbare hoop om te hê. En wat dan?" vra Gladstone.
“Ek sou hoop om met groot onderskeiding in die Parlement te kan dien, op 'n manier wat getuig van integriteit en ’n besorgdheid oor geregtigheid – net soos u dit gedoen het.”
"Wat dan?" vra Gladstone.
“Ek hoop om die regering as Eerste Minister te dien met dieselfde krag, toewyding, visie en integriteit as wat u dit gedoen het.”
“En wat dan?” vra Gladstone.
"Ek sou hoop om eervol af te tree en my memoires te skryf - soos u tans doen - sodat ander uit my foute en suksesse kan leer."
“Dit alles is baie edel,” sê Gladstone, “en wat dan?”
Die jong man dink vir 'n oomblik. “Wel, meneer, ek veronderstel dat ek dan sal sterf.”
“Dis korrek,” sê Gladstone. “En wat dan?”
Die jong man het verbaas gelyk. “Wel, meneer,” antwoord hy huiwerig, “ek het nog nooit daaraan gedink nie.”
“Jong man,” het Gladstone geantwoord, “die enigste raad wat ek vir jou het, is dat jy huis toe gaan, jou Bybel lees, en dink aan die ewigheid.”
GOEIE RAAD
Dink aan die ewigheid! Watter goeie raad. Die lewe gaan so vinnig verby. Dit is soos mis voor die son wat die een oomblik hier is en die volgende oomblik verdwyn. Ons is besig om ons voor te berei vir die ewigheid. Is jy gereed?
Of leef jy asof jy verwag om vir ewig te lewe? Is jy gefokus op hierdie lewe, vasbeslote om al die geld, mag en roem te versamel wat jy moontlik kan? Is jy soos die jong man wat Gladstone besoek het — is jy 'n persoon wat nog nooit aan die ewigheid gedink het nie? Indien wel, het die Woord van God 'n streng waarskuwing vir jou in Jakobus 4:13-15 :
Kom nou, julle wat sê : Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak - julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. In plaas dat julle sê : As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.
DIE VLUGTIGE AARD VAN DIE LEWE
Hierdie gedeelte herinner my altyd aan 'n voorval wat 'n paar jaar gelede in my lewe plaasgevind het. ’n Dierbare vriend van my saam met wie ek in ’n Texas kollege klas gegee het, het my eendag gebel en vir my gesê hy is met prostaatkanker gediagnoseer.
"Die dokter het my net ses maande gegee om te lewe," het hy gesê.
Ek het vir hom gesê dat ek baie jammer is om die nuus te hoor, en het belowe om vir hom en sy gesin te bid. Toe het ek bygevoeg: "Maar hou in gedagte, ek kan voor jou dood wees."
“O? Het jy ook kanker?” het hy gevra.
“Nee,” het ek geantwoord, “dis net dat ek nie eers die belofte van een dag van lewe het nie, nog minder ses maande.”
Ons is almal geneig om te lewe asof ons vir ewig gaan lewe, terwyl die feit is dat ons almal sterflik is en enige oomblik kan sterf aan 'n duisend verskillende oorsake, natuurlik van aard of ‘n onvoorsiene ongeluk.
Ironies genoeg sê die Bybel vir ons dat ons moet lewe asof ons vir ewig gaan lewe - maar nie op hierdie aarde nie. Ons moet leef in voorbereiding vir die ewigheid, hopelik 'n ewigheid saam met God.
“...wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe.” - Jesus in Johannes 12:25.
Heel waarskynlik is jy 'n wedergebore gelowige wat ernstig nagedink het oor die ewigheid, maar wat dit moeilik vind om 'n ewigheids perspektief te handhaaf. Jy vind jouself gedurig vasgevang in die probleme van die lewe, en die gevolg daarvan is stres, angs en selfs depressie.
Om met 'n ewigheids perspektief te lewe is een van die sleutels om as 'n oorwinnaar te lewe. Dit is 'n deug wat al hoe belangriker gaan word namate die samelewing aanhou disintegreer en Christene onder toenemende aanval kom.
Wat is die geheim om 'n ewigheids perspektief te behou? Baie van die antwoord hierop lê in jou houding oor hierdie wêreld.
JOU GESINDHEID TEENOOR DIE WÊRELD
Stop vir 'n oomblik en dink. Wat is jou houding oor hierdie wêreld? Is jy entoesiasties daaroor? Of voel jy ongemaklik daarmee? Is jy lief vir die wêreld? Of voel jy dikwels vervreemd daarvan? Is jy tuis in hierdie wêreld? Of voel jy soos 'n vreemdeling?
Daar is 'n ou “Negro spirituals” lied wat my altyd uitdaag om my houding teenoor die wêreld te ondersoek. Die eerste vers gaan soos volg:3
Hierdie wêreld is nie my woning nie,
ek is net 'n reiseger.
My skatte is weggebêre
Iewers anderkant die blou.
Die engele wink my nader
Uit die hemel se oop deur,
En ek kan nie meer tuis voel
In hierdie wêreld nie.
Druk daardie woorde jou gevoel oor hierdie wêreld uit? Watter woord sal jy gebruik om jou gevoel op te som? Ywerig? Angstig? Verlief? Vervreemd? Is jy gemaklik of voel jy nie op jou gemak nie?
MY GESINDHEID
Laat ek vir 'n oomblik jou toegeeflikheid vra terwyl ek my persoonlike gevoel oor hierdie wêreld deel. Die woord wat ek sou gebruik is “haat”. Ja, ek haat hierdie wêreld. Ek haat dit met 'n passie so sterk en so intens dat ek dit moeilik vind om dit in woorde uit te druk.
Laat ek my nou haas om my gevoel te verduidelik deur te sê dat ek nie God se pragtige en wonderlike skepping haat nie. Ek was bevoorreg om die majesteit van die Alpe te sien. Ek is verstom oor die ruwe skoonheid van Alaska. Ek hou nooit op om verstom te wees oor die kreatiewe wonders van God in die groot Amerikaanse Suidweste nie. Ek was geseënd om die ongelooflike skoonheid van Kaapstad, Suid-Afrika te sien. En ek is keer op keer oorweldig deur die skerp en amper mistieke kaalheid van die Judese Wildernis in Israel.
As ek sê dat ek hierdie wêreld “haat”, praat ek nie van God se skepping nie. Ek praat eerder van die bose wêreldstelsel waarin ons leef. Kom ek gee vir jou 'n paar voorbeelde van waarvan ek praat:
- Ek haat 'n wêreld waar duisende babas elke dag in hul ma se skoot vermoor word.
- Ek haat 'n wêreld waar jongmense se lewens, in die fleur van hul lewe, deur onwettige dwelms vernietig word.
- Ek haat 'n wêreld wat misdadigers nie streng hanteer nie en 'n bespotting van geregtigheid maak.
- Ek haat 'n wêreld wat misdaad in sy flieks en televisieprogramme verheerlik.
- Ek haat 'n wêreld wat onsedelike en vulgêre kunstenaars soos Lady Gaga toejuig.
- Ek haat 'n wêreld waar die regering dobbelary van 'n ondeug na 'n deug verander het.
- Ek haat 'n wêreld waarin professionele atlete miljoene dollars per jaar betaal word terwyl honderdduisende elke nag dakloos in die strate slaap.
- Ek haat 'n wêreld waar mense mekaar oordeel en veroordeel op grond van velkleur.
- Ek haat 'n wêreld wat kwaad goed noem deur te eis dat homoseksualiteit as 'n wettige, alternatiewe leefstyl erken word.
- Ek haat ’n wêreld waarin ma’s gedwing word om te werk terwyl hul kinders in onpersoonlike dagsorgsentrums grootword.
- Ek haat 'n wêreld waarin mense angswekkende sterftes sterf as gevolg van siektes soos kanker en vigs.
- Ek haat 'n wêreld waar gesinne deur alkoholmisbruik verskeur word.
- Ek haat 'n wêreld waar ek elke aand berigte op die televisienuus sien van kindermishandeling, rooftogte, ontvoerings, moorde, terrorisme, oorloë en gerugte van oorloë.
- Ek haat 'n wêreld wat die naam van my God, Jesus, as 'n vloekwoord gebruik.
Ek hoop jy verstaan nou wat ek bedoel as ek sê: "Ek haat hierdie wêreld!"
JESUS SE OOGPUNT
Maar hoe ek persoonlik oor hierdie wêreld voel, is nie belangrik nie. Die deurslaggewende punt vir jou om te oorweeg is die Bybelse siening. Kom ons kyk daarna, en terwyl ons dit doen, vergelyk die Bybelse siening met jou eie.
Kom ons begin met die uitkyk wat Jesus vir ons gesê het ons moet hê. Dit is aangeteken in Johannes 12:25 -
“Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe."
Dit is sterk woorde. Dit is die soort woorde wat ons laat huil en dink: “Hy het tog nie bedoel wat Hy gesê het nie.” Maar die konteks dui aan dat Jesus presies bedoel het wat Hy gesê het. So, haat jy jou lewe in hierdie wêreld of hou jy daarvan?
DIE OOGPUNT VAN DIE APOSTELS
Die apostel Paulus het 'n baie sterk waarskuwing gegee oor om gemaklik met die wêreld te wees. In Romeine 12:2 het hy geskryf:
“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed.”
Hoe voldoen jy aan hierdie vermaning?
Is jy aan die wêreld gelykvormig? Het jy die wêreld se manier van aantrek aangeneem? Wat van die wêreld se manier van praat of die wêreld se liefde vir geld? Is jou doelwitte die doelwitte van die wêreld - mag, sukses, roem en rykdom?
Jesus se broer het hierdie saak in baie skerp taal uitgedruk. Hy het in Jakobus 4:4 gesê,
“weet julle nie dat vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God.”
Is jy 'n vriend van die wêreld? Is jy gemaklik met wat die wêreld in musiek, flieks, televisieprogramme en topverkoper boeke kan bied? Vriendskap met die wêreld is vyandigheid teenoor God!
Trouens, Jakobus stel dit selfs sterker as dit, want aan die begin van die gedeelte wat ek hierbo aangehaal het (Jakobus 4:4), het hy gesê dat diegene wat vriendelik is met die wêreld geestelike egbrekers is.
Die apostel Johannes maak dieselfde punt net so sterk in 1 Johannes 2:15-16 :
Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is - die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe - is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld .
Daar is geen manier om die ontnugterende werklikheid van hierdie woorde te ontsnap nie. Is jy lief vir die wêreld? Indien wel, is die liefde van die Vader nie in jou nie!
DIE FOKUS VAN JOU GEDAGTES
Paulus vertel ons hoe om daarteen te waak om gemaklik met die wêreld te raak. In Kolossense 3:2 sê hy,
“Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.”
In Filippense 4:8 spreek hy dieselfde vermaning in hierdie woorde uit:
Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is - watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.
Soos hierdie verse aandui, is een van die sleutels om 'n triomfantlike lewe in Christus te lei - 'n vreugdevolle en oorwinnende lewe te midde van 'n wêreld wat oortrek is met wanhoop - om bewustelik te besluit om met 'n ewigheids perspektief te leef.
Wat beteken dit? In die woorde van Petrus beteken dit om te lewe as "bywooners en vreemdelinge" in hierdie wêreld (1 Petrus 2:11). Net so, in die woorde van die skrywer van Hebreërs, beteken dit om te lewe as "vreemdelinge en bywoners”. (Hebreërs 11:13) Paulus het in Filippense 3:19-20 geskryf dat ons nie ons gedagtes op aardse dinge moet rig nie, omdat ons burgerskap in die hemel is.
Die bekende Christelike skrywer, CS Lewis, het verduidelik dat om met 'n ewigheids perspektief te lewe, beteken "om te lewe as kommando's wat agter die vyandelike linies opereer en die weg voorberei vir die koms van die Opperbevelhebber."4
'N BYBELSE VOORBEELD
Daar is 'n kragtige Bybelse voorbeeld van wat kan gebeur wanneer 'n gelowige sy oë van die Here afhaal en op verbygaande dinge begin fokus, eerder as ewigheids sake. Dit word in Psalm 73 gevind.
Alle studente van die Bybel is bekend met Psalm 51 waarin Dawid sy sonde van egbreuk met Batseba bely het. Maar min is blykbaar bewus van Psalm 73 wat die belydenis van Dawid se aanbiddingsleier, Asaf, bevat.
In hierdie merkwaardige Psalm bely Asaf dat hy amper sy geloof verloor het toe hy sy ewigheids perspektief verloor het. Dit het gebeur toe hy iets gedoen het wat ons almal van tyd tot tyd geneig is om te doen - naamlik, hy het sy oë van die Here afgehaal en hulle eerder op die goddelose gerig. Toe hy dit gedoen het, het hy die voorspoed van die goddelose opgemerk en begin wonder of sy toewyding aan God werklik die moeite werd was (Psalm 73:1-3).
Het dit al ooit met jou gebeur? Dit het sekerlik al. Ek dink dit het al van tyd tot tyd met ons almal gebeur.
SUKKEL MET DIE VOORSPOED VAN DIE GODDELOSES
Dit is die einde van die maand, en die rekeninge moet betaal word. Jy sit by jou lessenaar en skryf tjek na tjek uit. Skielik bereik jy daardie minimum balans wat jy moet handhaaf om die daaglikse rekeninge van die nuwe maand te betaal - kos, petrol, klere, herstelwerk, ens. Maar jy het nog 'n stapel rekeninge om te betaal! Jy sug geïrriteerd en wonder wanneer jy ooit sal kan inhaal wat jy skuld.
Terwyl jy moedeloos na jou karige balans sit en staar, begin jy dink aan ’n vriend van jou by die werk. Hy is 'n ydele en goddelose man, met 'n vuil mond. Hy gee niks vir God om nie. Hy is ontrou aan sy vrou. Hy ignoreer sy kinders. Sport is sy obsessie en hy dobbel voortdurend. Tog lyk dit of hy nooit 'n bekommernis het nie. Hy woon in 'n pragtige huis, ry 'n spoggerige motor, en eet by die beste restaurante.
Jou hart begin vul met afguns en woede. Jy voel lus om uit te roep: “Here, ek dien U getrou, en al wat ek ooit in ruil kry, is moeilikheid. My kollega by die werk is 'n heeltemal beginsellose mens, en dit lyk of hy nie 'n bekommernis in die wêreld het nie! Wat is fout? Mors ek my tyd saam met U? Is my tiende 'n vermorsing van my geld? Is my getrouheid vir U van geen belang nie? Soos dinge nou lyk, kan ek net sowel die duiwel dien en bietjie genot uit die lewe kry!”
Klink dit bekend? Wel, dit is presies wat met Asaf gebeur het. Hy het sy ewigheids perspektief verloor, gekyk na die goddeloses, en homself begin verloor in selfbejammering (Psalm 73:2-3).
ASAF SE SONDE
Dit is verstommend hoe irrasioneel ons raak as ons toelaat dat selfbejammering ons denke oorneem. Toe dit met Asaf gebeur het, het hy oor die rykes begin fantaseer. Hy het vir homself begin sê dat hulle is "altyd op hulle gemak," hulle rykdom neem altyd toe, hulle het nooit die probleme wat ander mense het nie (Psalm 73:4-5,12). Dit alles is natuurlik volslae onsin. Trouens, die teenoorgestelde is waar. Die rykes is dikwels geneig om baie meer probleme as ander mense te hê. Byvooorbeeld - hulle moet voortdurend bekommerd wees oor hul geld - hoe om dit te beskerm en te vermeerder.
Dit was terwyl Asaf in hierdie fantasiewêreld vasgevang was dat hy 'n ernstige sonde teen God gepleeg het. Hy het die liefde en getrouheid van God gelaster deur uit te roep in Psalm 73:13-14:
“Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas. Die hele dag tog is ek geslaan, en my tugtiging was daar elke môre.”
ASAF SE DRAAIPUNT
Asaf was letterlik op die punt om sy geloof te verloor. Sy gees was verward en onrustig. Hy het met monsteragtige twyfel geworstel. Die stoeiwedstryd het voortgeduur totdat…
“Totdat ek in die heiligdomme van God ingegaan en op hulle einde [die einde van die goddelose] gelet het.”
(Psalm 73:17)
Asaf is op hierdie stadium verskriklik vaag. Hy vertel nie vir ons wat met hom gebeur het toe hy na die Here se huis gegaan het nie, behalwe dat sy ewigheids perspektief herstel is. Was dit 'n lied wat sy hart geraak het? Kon dit 'n skriflesing of 'n preek gewees het? Miskien was dit 'n woord van bemoediging van 'n oordeelkundige vriend. Dit kon selfs 'n dood in sy familie gewees het. Dit weet ons nie. Al wat ons vir seker weet, is dat iets sy hart geraak het en hom herinner het aan die ewige lot van die goddelose.
Hy sê dat hy daaraan herinner is dat die goddeloses instap by "gladde plekke" en dat God hulle enige oomblik kan laat ondergaan, meegesleur deur "verskrikkinge” (Psalm 73:18-19). Met ander woorde, Asaf is daaraan herinner dat die lewe baie onvoorspelbaar is - een oomblik hier en die volgende oomblik weg.
DIE IMPAK VAN DIE DOOD
Ek dink dit is die rede hoekom die dood van prinses Diana so 'n enorme impak op die wêreld gehad het. Hier was 'n vrou wat dit alles gehad het - alles wat die wêreld van droom. Sy het skoonheid, sjarme, rykdom, roem en invloed gehad. Sy het die "goeie lewe" gehad. Tog, in een skrikwekkende oomblik, het dit alles verdwyn. Sy was gereduseer tot gelykheid met ons almal - 'n sterflike persoon wat gegaan het om haar Skepper te ontmoet.
Dit was 'n ontnugterende gebeurtenis. Dit het die verganklike aard van die lewe beklemtoon. Ek is seker dit het baie mense vir die eerste keer in hul lewens laat stilstaan en oor die ewigheid laat dink.
Die Bybel sê dat die meeste mense in lewenslange vrees vir die dood leef. Trouens, die Bybel stel dit selfs sterker as dit.
Dit sê dat die meeste mense "uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe" (Hebreërs 2:15) is.
Dit is die rede wat maak dat 'n dood in die familie, of die dood van 'n vriend of 'n bekende, altyd so 'n impak het. Dit herinner ons aan ons eie sterflikheid, en dit aktiveer ons ewigheids perspektief.
ASAF SE GELOOF HERSTEL
Ek dink dit is interessant om daarop te let dat sodra Asaf se ewigheids perspektief herstel is, hy met twyfel teruggekyk het op sy geveg en hom verwonder het oor hoe dom hy was. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat hy was "dom en het niks geweet nie" soos 'n dier (Psalm 73:21-22).
Asaf het sy psalm afgesluit deur die Here te loof vir sy getrouheid in woorde wat herinner aan Paulus toe hy geskryf het:
“As ons ontrou is, bly Hy getrou; Hy kan Homself nie verloën nie” (2 Timoteus 2:13).
Asaf het sy herstelde prioriteite in onvergeetlike woorde uitgedruk in Psalm 73:25-28 -
Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op aarde nie.
Al beswyk my vlees en my hart - God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid.
Want kyk, die wat hulle ver van U af hou, vergaan; U roei almal uit wat van U afhoereer.
Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees; in die Here HERE het ek my toevlug gestel, om al U werke te vertel.
Die oplossing vir Asaf se geestelike angs was die herstel van sy ewigheids perspektief. Hy is daaraan herinner dat hierdie lewe maar kort is, en 'n dag van oordeel kom. Hy het besef dat hy dalk nooit geregtigheid in hierdie lewe sal sien nie, maar eendag sal geregtigheid seëvier. Hy het besef dat hy geroep is om deur geloof te lewe en nie deur te fokus op wat hy kan sien nie.
NOG 'N TOETS VAN GESINDHEID
Kom ek gee jou 'n laaste toets om te bepaal of jy met 'n ewigheids perspektief leef of nie: Hoe voel jy oor die Here se wederkoms? Dit is 'n toets wat finaal en verseker sal bepaal of jy verlief is op die wêreld of die Here.
Die gesindheid van die persoon wat verlief is op die wêreld kan die beste uitgedruk word in hierdie woorde: "Ek wil hê die Here moet terugkom, maar ..." Daar is altyd 'n "maar".
· "Ek wil hê die Here moet terugkeer, maar eers nadat ek 'n miljoen dollar gemaak het."
· "Ek wil hê die Here moet kom, maar ek wil hê Hy moet kom nadat ek 'n groot roman geskryf het."
· “Ek wil hê die Here moet kom, maar eers nadat ek die voorblad van Time gemaak het.”
· “Ek wil hê die Here moet kom, maar ek wil hê Hy moet kom nadat ek ’n groot kerk gebou het.”
· “Ek wil hê die Here moet kom, maar eers nadat ek 85 jaar oud is en alles ervaar het wat die lewe bied.”
Wat hierdie mense eintlik sê, is: “Ek wil hê Jesus moet kom, maar ek wil nie hê Hy moet my lewe deurmekaar maak nie!” Hulle is verlief op die wêreld.
Jy sien, wanneer jy verlief is op iemand, wil jy by hulle wees. Dit is 'n feit van die lewe. Kyk na mense wat pas verlief geraak het. Hulle wil heeltyd by mekaar wees. Wanneer hulle uitmekaar is, is hulle gedurig oor die telefoon besig om te praat oor wanneer hulle weer saam sal wees!
Dieselfde geld vir die Here. As jy Jesus waarlik liefhet, sal jy by Hom wil wees. Jy sal in gebed met Hom praat. Jy sal met Hom gemeenskap hê in Sy Woord en in aanbidding. Maar hierdie vorme van kommunikasie sal nooit jou verlange om in Sy teenwoordigheid te wees, om persoonlike, intieme gemeenskap met Hom te hê, van aangesig tot aangesig met Hom te wees, bevredig nie.
Jy sal soos Paulus wees, gewillig om in hierdie wêreld te bly om die Here te dien, maar smagtend na die dag wanneer jy met Hom verenig sal word, hetsy deur die dood of Sy wederkoms (2 Korintiërs 5:8 en Filippense 1:23-24).
'N PRAKTIESE VOORSTEL
Ek stel voor dat die volgende keer as jy jou ewigheids perspektief laat glip, jy van Psalm 73 onthou en dit lees. Wanneer jy klaar is, draai die syfers om en gaan na Psalm 37. Daar sal jy 'n kragtige opsomming vind van wat Asaf geleer het. Dit is 'n psalm van Asaf se mentor, koning Dawid.
Dawid sê,
“Wees nie toornig op die kwaaddoeners nie, beny hulle nie wat onreg doen nie; want soos gras sal hulle gou verwelk, en soos groen grasspruitjies sal hulle verdroog.” (verse 1-2).
Hy sê vir ons wat om eerder te doen:
“Vertrou op die Here, en doen wat goed is … verlustig jou in die Here” (verse 3-4).
Oor en oor waarsku hy ons om ons nie oor kwaaddoeners te bekommer nie, want hy sê die dag sal kom wanneer hulle "uitgeroei" (vers 9) word. In kontras sal "die wat op die Here wag" die "aarde besit" (vers 9).
WAT IS JOU GESINDHEID?
Is jy gefokus op hierdie wêreld? Is jy daaraan geheg? Of verstaan jy die feit dat jy net besig is om deur te trek, op pad na 'n ewige tuiste?
Hierdie lewe is verganklik. Hierdie lewe is slegs 'n inleiding tot die ewigheid. Die liedjieskrywer, Tillit S. Teddlie, het dit alles in perspektief gestel toe hy geskryf het:5
Die aarde hou geen skatte nie,
maar vergaan met gebruik,
hoe kosbaar hulle ook al is;
Tog is daar 'n land waarheen ek gaan:
die hemel hou alles vir my in.
Waarom sou ek verlang
na die wêreld met sy smarte,
wanneer in daardie huis oor die see,
Miljoene sing
Die wonderlike storie?
Die hemel hou alles vir my in.
Die hemel hou alles vir my,
helderder sal Sy heerlikheid wees;
Vreugde sonder maat
sal my skat wees:
Die hemel hou alles vir my.
Daar is 'n meer kontemporêre lied wat die hele essensie opsom van wat dit beteken om met 'n ewigheids perspektief te leef:6
Rig jou oë op Jesus,
Kyk vol in Sy vriendelike gesig,
Alle aardse kommer
Het so verdwyn
In die glans van Sy glorie en lig
'n Aantal jare gelede was ek geseënd om 'n groot man van God genaamd Leonard Ravenhill, 'n profetiese prediker van Engeland, te ontmoet. Na ons ontmoeting het ons kortliks gekorrespondeer. Net voor sy dood, in die laaste brief wat hy vir my gestuur het, het hy 'n klein kaartjie ingesluit wat 'n kort, een sin boodskap bevat het. Hy het my aangemoedig om die boodskap te memoriseer en dit daagliks uit te leef.
Dit was Julie 1988. Ek het nogsteeds die kaart. Dit is nou verweer en amper flenters, want ek het 'n punt gemaak daarvan om dit te alle tye in my hempsak te hou. Die boodskap wat daarop gedruk is, is eenvoudig, maar diep: "Here, hou my ewigheidsbewus."
NOTAS
- Roy Jenkins, Gladstone: A Biography (New York, New York: Random House, 1997), 768 bladsye.
- Daar is baie weergawes van hierdie gesprek wat op die internet sirkuleer, wat almal dieselfde punt maak. Die weergawe wat hier weergegee word, is 'n samestelling wat deur die skrywer voorberei is.
- Albert Brumley, "This World is Not My Home (I'm Just A Passing Thru)," 'n “Negro spiritual” van onbekende oorsprong bymekaar gesit deur Albert E. Brumley. Saamgestel © deur Albert E. Brumley.
- Die skrywer kon nie die presiese bron van hierdie aanhaling wat aan CS Lewis toegeskryf word, opspoor nie. Lewis verwys verskeie kere na "living on enemy territory" in sy klassieke, Mere Christianity (New York, New York: MacMillan Publishing Co., 1960), p. 51.
- Tillit S. Teddlie, "Heaven Holds All for Me," publieke domein.
- Helen H. Lemmel, "Turn Your Eyes Upon Jesus," © 1922, hernu 1950 deur Singspiration, Inc.
Hierdie artikel is ‘n verkorte weergawe van 'n hoofstuk in Dr. Reagan se boek, Living for Christ in the End Times.
Die oorspronklike artikel kan gevind word by: https://christinprophecy.org/articles/living-with-an-eternal-perspective/
In hierdie artikel word die Ou Afrikaanse Bybel vertaling (1933/53) vir alle Afrikaanse bybel aanhalings gebruik.