2023-05-29

Om Hoop te Vind te Midde van 'n Krisis

Kan Bybelse Profesieë vir ons hoop gee?

Deur Dr. David Reagan

Hoop is noodsaaklik vir die lewe. Daarsonder verval mense in diep depressie of pleeg selfmoord of verloor bloot net heeltemal hulle moed vir die lewe.

Tydens die Holocaust was Viktor Frankl, wat later 'n wêreldbekende psigiater geword het, 'n gevangene in een van die Nazi-doodkampe. Hy het opgemerk dat elke jaar soos Kersfees nader gekom het, het ' n oplewing van hoop onder die gevangenes ontstaan dat hulle op Kersdag vrygelaat sou word. Dit was 'n irrasionele hoop, maar dit was hoop. Dan, wanneer Kersfees sou kom en gaan sonder 'n vrylating, sou honderde gevangenes net gaan lê en sterf. Sonder hoop kon hulle nie lewe nie.1Frankl het tot die gevolgtrekking gekom: "Dit is 'n eienaardigheid van die mens dat hy slegs kan lewe deur na die toekoms te kyk."2

'n Desperate Behoefte

Die wêreld het hoop broodnodig in hierdie eindtye. Ons leef in 'n wêreld van toenemende vrese - vrees vir die massa-ontploffing van kernwapens wêreldwyd wat wydverspreide vernietiging en radioaktiewe uitval veroorsaak, vrees vir ekonomiese ineenstorting, vrees vir plae soos vigs, vrees vir terrorisme, vrees vir oorlog, en - natuurlik - vrees vir lewe en dood.

Ons Amerikaanse nasie het hoop nodig. Ons ekonomie het in duie gestort. Mense verloor hul werk. Huise se verbande word opgeroep. Korporasies wat al meer as honderd jaar Amerikaanse ikone is, verklaar bankrotskap. Aftreefondse is uitgewis. Baie mense voel vir die eerste keer in hul lewens 'n gevoel van desperaatheid.

Oral oor soek mense hoop, en dit sluit Christene in. Sommige sal dalk reageer deur te sê: "Christene is die enigstes wat enige hoop het!" Dit is waar, maar die probleem is dat die meeste belydende Christene nie hul hoop verder kan verwoord as 'n vae stelling soos, "My hoop is die hemel" nie.

'n Geïgnoreerde Deug

Ek het eendag tot hierdie besef gekom toe ek Paulus se groot liefdesgedig in 1 Korintiërs 13 gelees het. Dit eindig met die bekende frase: “En nou bly geloof, hoop en liefde - hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde” (1 Korintiërs 13:13).

Terwyl ek aan daardie woorde gedink het, het dit skielik by my opgekom dat ek al honderde preke oor geloof en liefde gehoor het, maar ek kon nie aan een dink wat oor hoop gegaan het nie.

Op daardie oomblik het die Here dit op my hart gelê dat hoop die mees geïgnoreerde van die Christelike deugde is. Ek het dadelik geweet hoekom dit waar is. Dit is omdat hoop direk verband hou met 'n mens se kennis van Bybelse profesieë, en daar is geen onderwerp in die moderne Kerk wat meer geïgnoreer word as profesie nie.

Stop en dink vir 'n oomblik daaroor. Wat is jou hoop? Hoe sal jy dit aan 'n ongelowige verduidelik? Kan jy verby die woorde kom: "My hoop is die hemel"?

My Erfenis

Gedurende die eerste 30 jaar van my lewe het ek byna geen onderrig oor Bybelse profesieë ontvang nie, en ek het met min hoop geleef. As jy my sou gevra het om my hoop te definieer, sou ek jou 'n patetiese antwoord gegee het, meer gebaseer op Griekse filosofie as Hebreeuse teologie.

Ek is geleer dat as ek sterf voordat die Here terugkom, ek “sieleslaap” sou ervaar. Met ander woorde, ek sou in totale bewusteloosheid verval en in my graf lê totdat die Here terugkom. Met Sy terugkeer, is ek geleer, dat 'n "oerknal" sou plaasvind wat die heelal sou laat verdwyn. My siel sou opgewek word, en ek sou weggaan na 'n eteriese wêreld genaamd die Hemel waar ek op 'n wolk rondsweef en vir ewig op 'n harp sou speel.

Vir my was dit 'n donker prentjie. Ek het nie gehou van die idee om vir eeue lank in 'n koma in 'n graf te lê nie. Die idee van ‘n “oerknal” het my bang gemaak. Ek was afgesit deur die idee om 'n soort ontliggaamde gees te word sonder enige individualiteit of persoonlikheid. Ek kon beslis nie opgewonde raak om vir altyd 'n harp te speel nie. Om die waarheid te sê, ek het daardie idee skreeusnaaks gevind.

Want jy sien, ek het grootgeword in 'n kerk wat geglo het dat dit 'n verskriklike sonde is om 'n musiekinstrument in 'n erediens te speel. En tog gaan ons vir ewig harpe in die Hemel speel! Dit het vir my geen sin gemaak nie, so ek het dit as 'n klomp nonsens afgeskryf.

Ek kon niemand blameer behalwe myself nie, want ek het nie God se Woord bestudeer soos ek moes nie. Toe ek dit uiteindelik begin doen het, en die Heilige Gees my begin lei het in 'n studie van Bybelse profesieë, het ek begin om ontdekkings te maak oor die toekoms wat groot hoop in my gees wakker gemaak het. Om die waarheid te sê, ek het so opgewonde geraak oor my ontdekkings dat ek oor die banke begin spring het en aan die kandelare gehang het terwyl ek "Hallelujah!" en "Prys die Here!" geskree het. Mense het gedink dat ek oornag deel van die Pinkster kerk geword het! Maar nee, ek het net sopas God se wonderlike beloftes vir die toekoms ontdek wat ontwerp is om ons hoop in die hede te gee.

Die Misleidende Lering van die Sieleslaap

Die eerste ontdekking wat ek gemaak het, het betrekking op “sieleslaap”. Ek het uitgevind dit is 'n onbybelse konsep. Dit is waar dat wanneer ons sterf, ons liggame metafories "slaap", maar die geeste van die dooies verloor nooit hul bewussyn nie.

Jesus het dit mooi verduidelik in Sy verhaal oor die ryk man en Lasarus (Lukas 16:19-31). Toe hulle gesterf het, het hulle geeste na Hades gegaan. Die ryk man se gees het na 'n kompartement in Hades gegaan wat genoem is “Smarte". Die gees van Lasarus het na die kompartement gegaan met die naam “boesem van Abraham.” Aan die Kruis het Jesus na Abraham se boesem verwys as “Paradys” (Lukas 23:43). Die twee kompartemente is geskei deur 'n “groot kloof” wat nie oorgesteek kon word nie.

In Jesus se verhaal word beide mans uitgebeeld as ten volle bewus. Hulle voer selfs 'n gesprek met mekaar. Hulle siele slaap nie.

Verdere bewyse van bewussyn na die dood kan gevind word in Openbaring 7. Johannes is opgeneem na die Hemel en word 'n toer deur die troonkamer van God gegee. Hy sien “‘n groot menigte … uit alle nasies en stamme en volke en tale,”  staan ​​voor die troon van God “bekleed met wit klere” en waai palmtakke in aanbidding (Openbaring 7:9). Hulle is ten volle bewus terwyl hulle sing, “Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” (Openbaring 7:10)

Johannes wil die identiteit van hierdie mense weet. Hy word vertel dat hulle martelare vir Christus is wat uit die “groot verdrukking” (Openbaring 7:14) kom. 

Dit is twee tonele in die Skrif van mense na die dood wat by hul volle bewussyn is.

Paulus se Bevestigings

Die apostel Paulus het bewussyn na die dood bevestig. In 2 Korintiërs 5:8 het hy geskryf dat hy sou verkies om “uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon.” Hy het hierdie sentiment herhaal in sy brief aan Filippense waar hy geskryf het, “vir my is die lewe Christus en die sterwe wins” (Filippense 1:21). Hy het uitgebrei oor die betekenis van hierdie stelling deur by te voeg dat sy begeerte was “om heen te gaan en met Christus te wees” (Filippense 1:23). Paulus het nie eers aan die konsep gedink om vir eeue lank in 'n koma in 'n graf te lê nie. By die dood het hy verwag om dadelik by die Here te wees.

Die Intermediêre Staat

My tweede ontdekking was dat ons nie as ontliggaamde geeste bestem is tot 'n eteriese bestaan ​​nie. Onmiddellik na die dood ontvang beide die gereddes en die verlorenes 'n liggaam wat ek 'n "intermediêre gees-liggaam" gaan noem. Ek het dit hierdie naam gegee omdat dit 'n liggaam is wat tussen ons huidige vleeslike liggaam en die uiteindelike, verheerlikte liggaam is, wat heiliges sal ontvang ten tyde van hulle opstanding.

Die Bybel vertel ons nie veel oor hierdie liggaam nie, behalwe dat dit tasbaar en herkenbaar sal wees. In 1 Samuel 28 word ons byvoorbeeld vertel dat koning Saul, in sy rebellie teen God, 'n heks geraadpleeg het. Toe sy probeer het om ‘n demoon gees op te roep het die Here, in plaas daarvan, vir Samuel gestuur wat 'n ruk tevore gesterf het. Die oomblik toe Samuel verskyn het, het beide die heks en Saul hom herken.

Nog 'n voorbeeld van die intermediêre gees-liggaam kan gevind word in Matteus 17 waar die verhaal vertel word van die gedaante verandering van Jesus. Dit was toe dat Sy dissipels 'n blik op Sy komende heerlikheid gegee is. Terwyl hulle hierdie wonderlike gebeurtenis aanskou het, het daar skielik twee mense by hulle verskyn en met hulle begin praat. Dit was Moses en Elia (Matteus 17:1-5).

Bykomende voorbeelde van intermediêre geesliggame kan gevind word in die twee Bybelse tonele wat ek reeds genoem het: Die Ryk Man en Lasarus in Hades (Lukas 16) en die groot verdrukking se martelare in die Hemel (Openbaring 7).

Verheerliking

Wanneer Jesus terugkom, sê die Bybel dat Hy die geeste van die gereddes sal saambring (1 Tessalonisense 4:13-14), Hy sal hul liggame opwek en 'n groot wonderwerk doen en hulle herskep (of hul liggame bewaar, verrot, veras of in die see vergaan het). In 'n oogwink sal Hy hulle geeste met hulle opgewekte liggame herenig en dan hulle liggame verheerlik (1 Tessalonisense 4:15-16), Dan sal daardie heiliges wat lewe, weggeraap (die wegraping) word om die Here in die lug te ontmoet, en hulle sal verander word op pad boontoe (1 Tessalonisense 4:17).

My hele lewe lank het ek mense hoor sê: "Daar is twee dinge in die lewe wat niemand kan vermy nie: die dood en belasting." Daardie stelling is verkeerd. Die enigste ding wat ons nie kan vermy nie, is belasting en nog belasting. 'n Hele generasie gelowiges sal die dood vermy – die generasie wat lewe wanneer die Here terugkom vir Sy Kerk. Dit is geen wonder dat Paulus hierdie groot gedeelte in 1 Tessalonisense afgesluit het deur te sê: “Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Tessalonisense 4:18).

Wat is 'n verheerlikte liggaam? Paulus het 'n hele hoofstuk oor hierdie onderwerp in 1 Korintiërs 15 geskryf. Hy het gesê dat ons verheerlikte liggame' n geestelike liggaam sal wees, wat gekenmerk word deur onverganklikheid, heerlikheid en krag (1 Korintiërs 15:42-44). Paulus sê verder dat die verheerlikte liggaam onsterflik sal wees, en as sodanig nie meer aan die dood onderworpe sal wees nie (1 Korintiërs 15:53-55).

Die Aard van die Verheerlikte Liggaam

Paulus het 'n stelling in sy brief aan die mense van Filippi  gemaak wat ek dink vir ons ​​'n raamwerk bied om te help verstaan ​​hoe ons verheerlikte liggame sal wees. Hy het geskryf dat wanneer Jesus terugkom, Hy “ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp” (Filippense 3:20-21). Met ander woorde, ons verheerlikte liggame gaan soos Jesus se opgestane liggaam wees.

Dink vir 'n oomblik daaroor na. Na Sy opstanding het Jesus 'n tasbare liggaam gehad wat aangeraak en herken kon word (Lukas 24:41-43 en Johannes 20:27-28). Mense het aanvanklik gesukkel om Hom te herken, maar dit is verstaanbaar. As jy een dag jou beste vriend begrawe, en hy klop die volgende dag aan jou deur, sou jy hom herken? Sal jy nie aanneem hy is iemand wat soos jou vriend lyk nie? Sodra die dissipels besef het dat Jesus waarlik opgestaan ​​het, het hulle nie meer gesukkel om Hom te herken nie, selfs op 'n afstand (Johannes 21:1-7).

So, Jesus het 'n liggaam gehad soortgelyk aan dié wat ons nou het. Dit was tasbaar en herkenbaar. Dit was ook 'n liggaam wat kos geëet het. Daar word verskeie kere verwys na Jesus terwul Hy saam met Sy dissipels eet, insluitend 'n vismaaltyd aan die kus van die See van Galilea (Lukas 24:30-31, 41-42, en Johannes 21:10-13). Ek moet erken dat ek opgewonde raak wanneer ek hierdie verhale lees van Jesus wat eet, en ook wanneer ek lees dat ons saam met Hom sal eet in die Hemel by die “bruilofsmaal van die Lam” (Openbaring 19:7-9). Ek het hierdie fantasie dat ons alles sal kan eet wat ons wil in ons verheerlikte liggame en nie hoef bekommer te wees oor gewig optel nie! (Dit behoort voldoende te wees om baie van julle aan te spoor om te skree, "Maranata!")

'n Ander Dimensie

Die opgestane liggaam van Jesus was in baie opsigte soortgelyk aan ons s'n, maar daar was ook 'n paar verskille. Dit het gelyk asof Jesus se liggaam kenmerke van' n ander dimensie gehad het, want Hy kon by 'n geslote kamer deur 'n muur ingaan (Johannes 20:26), en Hy kon byna onmiddellik van een plek na 'n ander beweeg (Lukas 24:30-36). Die een oomblik was Hy nog op pad na Emmaus, en die volgende oomblik was Hy in Jerusalem, en daarna verskyn Hy in die Galilea-gebied.

Sy dissipels het so geskrik en was so bang gewees oor Sy vermoë om te verdwyn en skielik weer op 'n ander plek te verskyn, dat hulle gedink het hulle sien 'n gees. Maar Jesus het hulle egter dadelik gerus gestel en vir hulle gesê: "Voel aan My en kyk; want 'n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie.” (Lukas 24:39). Wanneer die Woord sê dat ons verheerlikte liggame sal “geestelik” van aard wees (1 Korintiërs 15:44), beteken dit nie dat ons eteriese geeste sal wees nie. Dit sê dat ons natuurlike liggaam sal as 'n geestelike liggaam opgewek word, nie as 'n gees nie. Ons sal steeds 'n liggaam hê, maar dit sal nie meer deur die ou sondige natuur, die vlees, beheer word nie. Dit sal eerder 'n liggaam wees wat volkome aan die beheer van die Heilige Gees onderwerp het. 

Daar is nog een ding wat die Bybel oor die verheerlikte liggaam openbaar wat 'n bron van groot vertroosting behoort te wees. Die verheerlikte liggaam sal 'n volmaakte liggaam wees. Dit beteken dat die blindes sal sien, die dowes sal hoor, die kreupeles sal loop en die stommes sal praat. Diegene wat verstandelik gestremd is, se verstande sal genees wees (Jesaja 29:18-19, 32:3-4, en 35:5-6). Daar sal geen pyn of dood meer wees nie (Openbaring 21:4). God sal “al die trane van hulle oë afvee,”en “ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie” (Openbaring 21:4).

Betekenisvolle Aktiwiteite

My eerste ontdekking was dat daar nie iets soos "sieleslaap" bestaan ​​nie. Ons behou ons bewussyn na die dood. My tweede ontdekking was dat ons nie bestem is om ontliggaamde geeste te wees nie. Ons gaan voort gaan om 'n liggaam te hê - eerstens 'n intermediêre gees-liggaam, en dan 'n verheerlikte liggaam. My derde ontdekking was dat ons nie vir ewig verveeld gaan wees en harpe sit en speel nie. Ons gaan betrokke wees by 'n paar betekenisvolle aktiwiteite.

As jy 'n gelowige is en jy sterf voor die Here se wederkoms, sal jy hemel toe gaan waar jy by aanbidding betrokke sal wees (Openbaring 7:9-14) en diens (Openbaring 7:15). Weliswaar praat die Bybel nie spesifiek oor ons aanbidding en diens nie, maar ons kan verseker wees dat ons beide vervullend en opbouend sal vind. Dit kan ook wees dat dit 'n tyd van rus sal wees, wat ons sal voorberei vir die tyd van kragtige diens wat sal volg, wanneer die Here terugkeer aarde toe.

Oordeel en Belonings

Ten tyde van die Wegraping (heel waarskynlik voor die Verdrukking), sal beide die lewendes en dooies in Christus hulle verheerlikte liggame ontvang. Ons sal saam met die Here in die Hemel wees tydens die Verdrukking. Dit sal die tyd van ons oordeel wees, nie om ons ewige lot te bepaal nie, maar wel ons grade van beloning. Elkeen van ons sal voor die regterstoel van Jesus staan ​​en geoordeel word oor hoe ons ons geestelike gawes gebruik het om Sy koninkryk te bevorder (2 Korintiërs 5:10). Ons werke sal beoordeel word in terme van kwantiteit, kwaliteit en motief (1 Korintiërs 3:13-15 en 4:5). Sommige sal verleentheid ervaar aangesien al hul werke as waardeloos verbrand sal word (1 Korintiërs 3:13-15). Ander sal groot belonings ontvang.

Sommige van die belonings sal verband hou met die mate van heersende gesag wat aan ons tydens die Here se duisendjarige heerskappy toegestaan ​​sal word (Lukas 19:11-27). Ander sal bestaan ​​uit krone en spesiale klere. Daar sal 'n "kroon van geregtigheid" wees vir diegene wat geleef het met verlange na die wederkoms van Jesus (2 Timoteus 4:7-8). ‘n "Kroon van die lewe" sal gegee word aan diegene wat onder beproewing volhard (Openbaring 2:10 en Jakobus 1:12). Getroue ouderlinge en leraars sal ‘n "kroon van heerlikheid"(1 Petrus 5:4) ontvang. Sielewenners sal 'n "kroon van blydskap” (Filippense 4:1 en 1 Tessalonisense 2:19) gegee word. ‘n "Onverwelklike krans" sal gegee word aan diegene wat selfbeheersing uitoefen (1 Korintiërs 9:25). Selfs die klere wat ons ontvang, sal ons grade van beloning aandui. Die klere sal op een of ander manier "die regverdige dade van die heiliges” (Openbaring 19:8) weerspieël. 

Aan die einde van hierdie tyd van oordeel, sal ons, die Bruid van Christus, aansit by 'n feesmaal in die Hemel om ons eenheid met ons Bruidegom, Jesus, te vier. Die Bybel noem dit die "bruilofsmaal van die Lam" (Openbaring 19:9). Dit sal 'n tyd van ongeëwenaarde feesviering wees. Die hemele sal weerklink met “Hallelujas!” (Openbaring 19:1-6). 

Getuies van Heerlikheid 

Wanneer die maaltyd voltooi is, sal ons saam met Jesus terugkeer aarde toe (Openbaring 19:11-14). Ons sal daar wees in ons verheerlikte liggame wanneer Sy voete die Olyfberg raak en daardie berg middeldeur geskeur word (Sagaria 14:1-9). Ons sal daar wees om te skree “Hosanna aan die Seun van Dawid! Hosanna vir die Koning van die konings!” terwyl Hy op Sy wit perd in die Kidron vallei afry en die Oostelike Poort nader. Ons sal daar wees om die bonatuurlike opening van daardie poort te aanskou terwyl dit Jesus in die heilige stad, Jerusalem, verwelkom (Psalm 24:7-8):

7

Hef op julle hoofde, o poorte, 

ja, verhef julle, ewige deure, 

dat die Erekoning kan ingaan!

8

Wie is tog die Erekoning? 

Die Here, sterk en geweldig, 

die Here geweldig in die stryd.

Ons sal daar wees om “Halleluja!” te skree wanneer Jesus Koning van die konings gekroon word en Here van die here en so begin Sy heerlike duisendjarige heerskappy. 

Die Duisendjarige Vrederyk

Gedurende die Here se heerskappy gaan die Verlostes alles doen behalwe om op wolke rond te sweef en harpe te speel. Ons gaan saam met Jesus regeer oor diegene wat toegelaat word om die Millennium in die vlees binne te gaan (dit sal daardie gelowiges wees wat aan die einde van die Verdrukking nog lewe). Jesus sal van Jerusalem af oor die hele aarde heers (Jesaja 2:1-4) as Koning van die konings en Here van die here  (Openbaring 19:16). Dawid, in sy verheerlikte liggaam, sal as koning van Israel regeer (Esegiël 37:24). Diegene van ons wat verheerlikte heiliges sal wees, sal oor die hele aarde versprei wees om te help met Jesus se heerskappy (2 Timoteus 2:12).

Dink daaroor - elke persoon wat dan op aarde in 'n regerende gesagsposisie is, sal 'n verheerlikte heilige wees. Sommige van ons sal in administratiewe posisies wees en in Jesus se heerskappy deel as presidente, goewerneurs of burgemeesters (Lukas 19:11-27). Ander sal as regters dien (1 Korintiërs 6:3). Die meeste van ons sal dien as "herders," of onderwysers, wat probeer om diegene wat gedurende die Millennium gebore is tot geloof in Jesus te bring (Jesaja 66:18-21 en Jeremia 3:15).

Nie een van ons sal as wetgewers dien nie, want die wet sal deur Jesus self gegee word, en dit sal volmaak wees (Jesaja 2:1-4). Daar sal geen Texas Wetgewer of die Kongres van die Verenigde State wees nie. Daar sal ook geen stemmewerwer of politieke partye wees nie.

Die Here sal regeer met "'n ysterstaf" (Psalms 2:9 en Openbaring 2:27). Die wêreld regering sal 'n Teokrasie wees, met Jesus wat as beide die geestelike en politieke leier sal dien. "Ook sal Hy 'n priester wees op sy troon, en die raad van vrede sal tussen die twee bestaan.” (Sagaria 6:13).

Ons sal die voorreg hê om hierdie ou sonde-besmette wêreld te sien bedek word met vrede, reg en geregtigheid, "soos die waters die seebodem oordek" (Jesaja 11:9). Daar sal geen haweloses of honger mense wees nie (Jesaja 65:21-22 en Miga 4:4). Vrede sal die aarde omhul (Jesaja 2:4). Die Here se heerskappy sal gekenmerk word deur geregtigheid, regverdigheid en getrouheid (Jesaja 11:4-5). “Al die eindes van die aarde sal daaraan dink en hulle tot die Here bekeer, en al die geslagte van die nasies sal voor U aangesig aanbid.” (Psalms 22:28).

Die Ewige Toestand

Die Bybel is nie duidelik oor wat presies ons aktiwiteite sal behels wanneer die duisend jaar eindig en ons in die Ewige Toestand inbeweeg nie, Daar staan net drie dinge: ons sal die aangesig van God sien (Openbaring 22:4); ons sal die Here dien (Openbaring 22:3); en ons sal vir ewig saam met Hom regeer (Openbaring 22:5).

Om die aangesig van God te sien is 'n opwindende vooruitsig, want die Bybel sê dat niemand nog ooit Sy aangesig gesien het nie (Eksodus 33:20 en 1 Timoteus 6:16). Ek glo die belofte om God se aangesig te sien beteken dat ons vir ewig intimiteit met Hom gaan geniet. Baie daarvan sal ongetwyfeld in die vorm van aanbidding wees. Ek dink dit beteken ook dat ons vir altyd sal groei in ons kennis van die Here. Hy is oneindig, en maak nie saak hoe goed ons Hom leer ken nie, daar sal altyd net soveel meer wees vir ons om te ervaar. Ek is seker dat een aspek hiervan die ewige studie van Sy Woord sal wees. Ek raak opgewonde oor dit alles terwyl ek daaraan dink om die Psalms saam met Dawid te sing en die boek van Romeine saam met Paulus te bestudeer.

Wat diens betref, sou ek my voorstel dat ons gawes en talente sal verheerlik word en dat ons dit sal gebruik om die Here te verheerlik. So sal 'n sanger in staat wees om te sing met 'n perfeksie en omvang wat nog nooit tevore bereik is nie, en 'n skilder sal in staat wees om te skilder met 'n volmaaktheid wat hy nog nooit kon bereik het nie.

Om vir ewig saam met die Here te regeer, impliseer dat ons oor iemand sal regeer. Wie dit gaan wees, weet ek nie. Miskien sal dit die geheimsinnige "nasies" wees waarna verwys word in Openbaring wat blykbaar die nuwe aarde bewoon (Openbaring 21:24-27 en 22:2). 

Ons Ewige Tuiste

Dit bring my by die vierde en laaste ontdekking wat ek gemaak het toe die Heilige Gees my gelei het na 'n in-diepte studie van Bybelse profesieë. Ek het ontdek dat die Verlostes nie vir ewig in 'n eteriese wêreld genaamd die Hemel gaan lewe nie. Maar eerder, dat ons ewige tuiste op 'n nuwe aarde gaan wees. Die meeste Christene is verstom oor hierdie waarheid, wat wys hoe min oor Bybelse profesieë vandag in die Kerk geleer word.

Die Bybel leer dat die huidige aarde ewig is (Psalm 78:69 en Psalm 148:6), Daarom het ek tot die gevolgtrekking gekom dat die "nuwe aarde" die huidige aarde sal wees wat deur vuur opgeknap is. Dit is waar dat Petrus gesê het dat die huidige aarde sal "vernietig" word deur vuur (2 Petrus 3:10, 12), maar in die konteks is dit duidelik dat hy na 'n radikale transformasie van die huidige aarde verwys. Hy het vroeër in dieselfde gedeelte, na die oorspronklike aarde verwys en verduidlik dat dit deur water “vernietig” is, Dit was ‘n verwysing na die vloed van Noag. Die aarde van Noag se tyd het nie ophou bestaan ​​nie, maar die vloed het dit “vernietig” in dié sin dat dit die aard van die aarde radikaal verander het – dit om sy as gekantel het, die kontinente uitmekaar geskeur het, die fossielrekords neergelê het, sowel as die mariene organismes wat petroleumneerslae sou word, en die seedieptes en die berghoogtes geskep het. 

Aan die einde van die Millennium sal vuur deur God gebruik word om die besoedeling van Satan se laaste opstand weg te brand (2 Petrus 3:12). Te midde van daardie vurige inferno sal God die aarde hervorm soos 'n warm bol was. Hy sal dit verfris en dit tot sy oorspronklike volmaaktheid herstel (Handelinge 3:21). Hy sal dan die nuwe Jerusalem laat neerdaal na die nuwe aarde, met die verlostes daarop (Openbaring 21:1-2). Dan sal Hy self aarde toe kom om vir ewig in ons teenwoordigheid te lewe! "Die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees” (Openbaring 21:3).

Die hemel is waar God woon. Wanneer die nuwe aarde gereed is, sal die Hemel na die aarde toe neerdaal terwyl God op hierdie nuwe aarde Sy intrek neem. So, dit is waar dat die verlostes vir ewig in die Hemel sal lewe, maar die Hemel sal op aarde wees.

Die Verlossing van die Hele Skepping

God het Sy skepping lief, en Hy is van plan om dit te verlos -  die ganse skepping - en dit nie met een of ander mistieke "oerknal" te vernietig nie. Jesus het aan die Kruis gesterf nie net om die mensdom te verlos nie, maar ook om die Skepping te verlos. Dit is die rede waarom die Hoëpriester in Ou Testamentiese tye die bloed nie net op die versoendeksel van die Ark gesprinkel het nie, maar ook op die grond voor die Ark (Levitikus 16:15).

Die bloed op die versoendeksel van die Ark was 'n simboliese profesie wat daarop gedui het dat die bloed van die Messias die wet van God (die tablette in die Ark) sou bedek met die genade en barmhartigheid van God. Die bloed op die grond was 'n herinnering daaraan dat die offer van die Messias dit moontlik sou maak dat die vloek opgehef kan word en dat die diere- en planteryke na hul oorspronklike volmaaktheid teruggebring sou kon word (Jesaja 11:6-9 en Romeine 8:18-23).

'n Ongegronde Vrees

Baie mense vrees Bybelse profesieë. Hulle dink dit voorspel net onheil. Dit is waar vir dié wat die Here verwerp het, maar vir diegene wat Hom ken en liefhet, is daar net goeie nuus.

Die laaste hoofstuk van die Ou Testament begin met 'n voorbeeld hiervan - “Want kyk, die dag kom, en dit brand soos 'n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ‘n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek” (Maleagi 4:1). Dit is slegte nuus. Maar in net die volgende vers is ongelooflike goeie nuus vir gelowiges: “Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal” (Maleagi 4:2).

Bybelse profesieë bevat talle wonderbaarlike beloftes wat gegee is om aan God se mense 'n standvastige hoop te gee terwyl hulle as vreemdelinge en pelgrims leef in 'n toenemend bose wêreld wat God verwerp. Wanneer jy hierdie wonderlike beloftes lees, kan jy verstaan ​​hoekom Paulus in 1 Korintiërs 2:9 geskryf het : “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet."

'n God van Hoop

Soos hierdie vers aandui, kan ons nie eers die wonderlike seëninge voorstel wat God vir die verlostes het nie. Maar die volgende vers sê dat die Heilige Gees daardie seëninge aan ons geopenbaar het in God se Woord (1 Korintiërs 2:10). Wat hartseer is, is dat die meeste Christene onkundig is oor daardie beloftes en daarom geen idee het wat Paulus bedoel het toe hy geskryf het: “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie” (Romeine 8:18).

In Romeine 15:13 het Paulus geskryf : “mag die God van hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees”. Ons God is 'n God van Hoop wat begeer om ons met hoop te vul. As jy Jesus as jou Verlosser ken, is jy 'n erfgenaam van 'n aantal ongelooflike beloftes, en as jy daardie beloftes ken en daarin glo, kan jy in hierdie bose wêreld leef met hoop, vreugde en groot verwagting.

Soos wat die wêreld wat ons op geld gebou het rondom ons in duie stort, laat ons 'n ewigheids perspektief behou met ons hoop stewig gevestig op die spoedige wederkoms van Jesus. Maranatha!

Notas

Hierdie artikel is 'n geredigeerde uittreksel uit Dr. Reagan se boek, Living for Christ in the End Times.

1) Viktor Frankl, Man' s  search for meaning (New York, NY: Washington Square Press, 'n afdeling van Simon & Schuster, 1963, hersiene en bygewerkte uitgawe in 1998).

2) Ibid., bladsy 115.

Die oorspronklike artikel kan gevind word by: https://christinprophecy.org/articles/finding-hope-in-the-midst-of-crisis/

In hierdie artikel word die Ou Afrikaanse Bybel vertaling (1933/53) vir alle Afrikaanse bybel aanhalings gebruik.

CONTACT US
Get in touch
with our church

Send us a message

Contact Form Demo
Address
Cape Town
South Africa
Social
Subscribe to get Latest Updates and News
© Copyright Countdown to Christ 2023
Sitemap
cross linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram