2023-07-20

Die interpretasie van die boek

Is dit simbolies of letterlik van aard?

Deur Dr. David R. Reagan

Moet asseblief nie mislei word deur daardie mense wat kom en sê: “Die boek van Openbaring is apokalipties; daarom kan jy dit nie verstaan ​​nie.” Dit is 'n klomp snert — net snert. Ek het dit vir jare gehoor. “Dis apokalipties! Dis apokalipties!” Die woord het my my dood laat skrik. Dit het soos 'n siekte geklink.

Al wat die term beteken is dat die boek Openbaring 'n tipe profetiese literatuur is wat baie simbole gebruik. Omdat dit soveel simbole bevat, verklaar sommige mense die boek as 'n soort Alice-in-Wonderland-storie vir volwassenes en versprei hierdie lering. Deel van daardie benadering is om die beelde weg te verduidelik deur dit te vergeestelik om enigiets te beteken wat die aanbieder daarvan verlang. Die enigste beperking is die verbeelding. Dit is 'n ongesonde benadering.

Hou in gedagte dat simbole vir 'n spesifieke doel gebruik word. Hulle staan ​​vir iets. Daar is 'n letterlike betekenis agter hulle. Hulle is nie sommer sonder rede deur die Heilige Gees gekies toe Hy die boek geïnspireer het nie, en hulle staan ​​nie net vir enigiets wat ons mag begeer nie.

Neem Jesus, byvoorbeeld. In die Bybel word daar na hom verwys as die “Affodil van Saron” (Hooglied 2:1) Nou, Jesus is nie 'n affodil nie, maar die stelling dat Hy die "Affodil van Saron" is, kommunikeer iets wat werklik is oor Hom. Dit sê vir ons dat Hy pragtig is, dat Hy glansryk is, dat Hy wonderlik is, dat Hy die geestelike geur van God is. Hy word ook die "Brood van die Lewe" en die "Fontein van die Lewe" genoem. Elkeen van hierdie simbole word gebruik om 'n ander faset van Sy karakter te beklemtoon. Dink hoe onbehoorlik dit sou wees om na Hom te verwys as "die Tolbos van Texas"! Daardie simbool roep die beeld op van iets wat lelik en wortelloos is, onderhewig aan elke grille van die wind.

Dieselfde geld vir simbole regdeur die Bybel. Wanneer 'n simbool gebruik word, soek altyd die letterlike betekenis daaragter. God gebruik nie simbole lukraak nie, of trek dit net uit die lug uit asof hulle geen betekenis het nie.

Gebruik die Profesieë van Jesus se Eerste Koms as 'n Gids

As jy na apokaliptiese boeke in die Ou Testament kyk, soos die boek Sagaria, sal jy sien dat die Wederkoms profesieë wat in hierdie literatuur vervat is, presies beteken het wat hulle gesê het. Dit is 'n uiters belangrike punt, want die manier waarop die profesieë van Jesus se eerste koms vervul is, is die beste leidraad van hoe Wederkoms profesieë vervul sal word.

Kom ons kyk na 'n paar voorbeelde uit die boek Sagaria. Die profeet het gesê dat die Messias op 'n donkie sou kom en dat Hy op daardie donkie Jerusalem sou inry. (Sagaria 9:9) Nou, ek is seker dat sommige van ons liberale teoloë vandag, as hulle geleef het voor die koms van Christus, daardie vers sou geneem het en gesê het: “Wel, natuurlik beteken hierdie vers nie wat dit sê nie. Dit is apokaliptiese literatuur. Alle apokaliptiese literatuur moet vergeestelik word. Die Messias kom beslis nie op 'n donkie nie. Dis simpel. Al wat die vers beteken, is dat Hy ’n nederige mens gaan wees.” En hulle sou heeltemal verkeerd gewees het. Die vers het beteken wat dit gesê het. Jesus het op 'n donkie gekom, presies soos geprofeteer in apokaliptiese literatuur (Matteus 25:1-9).

Sagaria het ook geprofeteer dat die Messias deur 'n vriend verraai sou word (Sagaria 13:6) vir dertig silwerstukke (Sagaria 11:12). Hy het gesê die Messias sal deurboor word (Sagaria 12:10) en dat Hy wonde in Sy hande sou hê (Sagaria 13:6). Al hierdie profesieë was letterlik, nie simbolies nie.

Oor die Messias se wederkoms, het Sagaria gesê - Hy sal terugkom na die Olyfberg en die berg sal in die helfte skeur wanneer sy voet die grond raak (Sagaria 14:4). Die Messias sal 'n bonatuurlike woord spreek en die Antichris en sy magte met 'n plaag vernietig (Sagaria 4:12). En in Sagaria 14:9 sê dit dat die Here daardie dag koning sal word oor die hele aarde. Ek glo daardie woorde beteken presies wat hulle sê.

Aanvaar die Eenvoudige Betekenis

Nog 'n sleutel om die boek van Openbaring te verstaan, 'n baie belangrike sleutel, is om die eenvoudige betekenis van elke gedeelte te aanvaar. Selfs as jy dit nie verstaan ​​nie, is die beste reël om net die eenvoudige betekenis te aanvaar. My “Goue Reël van Interpretasie” wat ek regdeur die Bybel van begin tot einde gebruik, of dit nou ‘n profesie is of nie, is dit: “As die eenvoudige betekenis sin maak, moenie enige ander beteknis soek nie, of jy sal op eindig met nonsens.”

Omdat ek besef dat profetiese literatuur simbole bevat, gebruik ek nie graag die term, “letterlike interpretasie” nie. Ek verkies die term, "eenvoudige betekenis interpretation." Ja, daar is simbole, maar simbole het betekenisse. En wanneer simbole gebruik word, soek ek die betekenis daarvan. Weereens, as die eenvoudige betekenis sin maak, moenie enige ander betekenis soek nie, of jy sal met onsin sit!

Onthou, God skryf nie in raaisels om ons doelbewus te verwar nie. Hy weet hoe om te kommunikeer. Normaalweg sê Hy wat Hy bedoel, en Hy bedoel wat Hy sê. Probeer altyd om die eenvoudige betekenis te aanvaar. As jy dit nie verstaan ​​nie, moenie daaroor bekommer nie. Sit dit wat verwarrend is opsy en hou vas aan wat jy wel verstaan. Moenie toegee aan die versoeking om 'n gedeelte uit mekaar uit te trek sodat dit kan vergeestelik word. En moet dit nie allegories voorstel nie. Dit is 'n ernstige ding om God se Woord nie met erns te hanteer nie.

Die vergeesteliking van die Skrif is eintlik 'n lasterlike daad. Die rede is dat wanneer jy God se Woord begin vergeestelik, jy God begin speel, want jy kan die Skrif laat beteken wat jy wil, eerder as wat God bedoel het.

Glo Wanneer dit Moeilik is

Die beste kommentaar wat ek nog ooit oor die boek Openbaring gelees het, is die The Revelation Record deur Dr. Henry Morris. Heel aan die begin maak hy 'n stelling wat my "Halleluja!" laat skree het. Hy sê: “Die boek Openbaring is nie moeilik om te verstaan ​​nie. Dis net moeilik om te glo. As jy dit sal glo, sal jy dit verstaan.” Wat 'n diep insig! En dit is so waar. Moet dit nie vergeet nie.

Die aanvaarding van die eenvoudige betekenis is van toepassing selfs wanneer jy nie die gedeelte verstaan ​​nie. Kom ek gee vir jou 'n voorbeeld. In Openbaring 9 sê dit dat in die eindtyd 'n leër van 200 miljoen uit die Ooste na Israel gaan optrek. In die tyd wat dit geskryf is was daar nie eens 200 miljoen mense in die wêreld nie. Kan jy jou voorstel hoe die vroeë lesers van die boek probeer uitvind het wat dit beteken? Vandag kan een nasie, China, 'n leër so groot teen Israel stuur. Sien jy wat ek bedoel om te aanvaar wat dit sê al verstaan ​​jy dit nie?

Dit is een van die redes waarom ek nog altyd die skryfwerk van C.I. Scofield hoog geag het. Hy is die man wat in 1909 die heel eerste studie-Bybel bymekaar gesit het - 'n Bybel met verduidelikende aantekeninge.3 Hy het 'n letterlike interpretasie aan Esegiël 38 en 39 gegee en tot die gevolgtrekking gekom dat hierdie hoofstukke profeteer dat Rusland, tesame met bepaalde bondgenote, Israel sal binneval in die eindtye. In kommentaar op hierdie interpretasie het hy gesê: “Ek verstaan ​​dit nie. Ek kan dit nie verduidelik nie. Maar dit is wat dit sê. Daarom glo ek dit.”

Daardie stelling het baie geloof in die letterlike betekenis van die Woord van God vereis. Dink daaraan - in 1909 was Rusland 'n Christen-Ortodokse nasie en Israel het nie bestaan ​​nie, en daar was ook geen vooruitsig dat Israel ooit sou bestaan ​​nie!

Die Impak van Tegnologie

Moderne tegnologie het ons gehelp om baie profesieë te verstaan ​​wat voorheen 'n raaisel was. Byvoorbeeld, in Openbaring 13 sê dit dat wanneer die Antichris geopenbaar word, hy vergesel gaan word deur 'n persoon bekend as die Valse Profeet. Hierdie Valse Profeet sal 'n beeld van die Antichris maak, en daardie beeld sal skynbaar lewendig word. Mense sal die beeld aanbid. Vir duisende jare moes mense wonder wat bedoel word met die verwysing na 'n beeld wat blykbaar lewendig is. Geleerdes het baie bladsye geskryf wat die gedeelte allerhande vergeestelikte verduidelikings gegee het. Vandag, met die tegnologie wat ons het, is dit glad nie moeilik om 'n robot- of digitale beeld te maak wat lyk asof dit lewendig is nie.

Veertig jaar gelede het ek na 'n teater by Disneyland gegaan. Toe die gordyn oopgaan, het ek 'n persoon wat soos Abe Lincoln gelyk het op die verhoog sien sit. Hy het opgestaan, na die rand van die verhoog gestap, sy jas se kraag vasgegryp en voortgegaan om die "Gettysburg-adres" te lewer. Die persoon was so lewensgetrou. Ek het gedink hy is 'n akteur. Hy was nie. Die persoon was 'n robot.

Die Bybel sê die Valse Profeet sal 'n beeld maak van die Antichris wat sal lyk asof dit lewendig word. Ek dink ons ​​moet glo die Bybel bedoel wat dit sê.

In dieselfde hoofstuk van Openbaring, hoofstuk 13, word ons vertel dat elke persoon op aarde gedurende die tydperk van verdrukking vereis sal word om 'n merk van die dier (sy naam of nommer) op hul voorkop of op hul regterhand te hê om te kan koop en verkoop. Vir eeue was dit 'n profesie waarvan die duidelike betekenis moeilik was om te begryp. Maar nie meer nie. Vandag, met die soort tegnologie wat ons met rekenaars en lasers het, is so 'n merk iets wat wel moontlik sou kon wees. Nietemin, tot onlangs moes mense alleen net deur geloof aanvaar dat die gedeelte bedoel wat dit sê.

Nog 'n voorbeeld word gevind in Openbaring 11 waar dit sê dat gedurende die tydperk van verdrukking twee groot getuies van God vir drie en 'n half jaar lank sal getuig. Hulle sal magtige wonderwerke doen en dan deur die Antichris doodgemaak word. Hulle liggame sal vir drie dae in die strate van Jerusalem lê, en dit sê dat al die mense van die wêreld na hulle sal kyk. Dan, skielik, sal hulle opgewek word en na die Hemel opgeneem word. Nodeloos om te sê, voor die Sowjet Spoetnik in 1957, was daardie gedeelte moeilik om te verduidelik. Hoe kon die hele wêreld na twee lyke kyk wat in die strate van Jerusalem lê? Vandag is dit nie meer snaaks nie. Al wat jy moet doen is om 'n TV-kamera te neem, dit op hulle te rig en die uitsending na 'n satelliet te stuur. En dan, onmiddellik, kan die hele wêreld sonder enige moeite na daardie liggame kyk.

Opsomming

Mense het eeue spandeer om God se Woord weg te verduidelik bloot omdat hulle dit nie noodwendig verstaan ​​het nie. Ek sê, neem die eenvoudige benadering. Aanvaar dat God wil kommunikeer, dat God weet hoe om te kommunikeer, en dat God sê wat Hy bedoel en bedoel wat Hy sê. Glo dat simbole vir iets letterliks ​​staan, en aanvaar dit vir hul duidelike betekenis. Dan sal jy die boek Openbaring begin verstaan.

Studie hulpbronne vir die boek van Openbaring

1.  An Overview of Revelation multimedia-opleidingstel gaan deur die boek van Openbaring vers vir vers.

2.  Dr. Reagan se boek, Wrath and Glory , gaan deur die boek van Openbaring hoofstuk vir hoofstuk.

3.  Dr. Reagan se videoprogram, Revelation Revealed , bied 'n omvattende oorsig oor die hele boek van Openbaring.

Die oorspronklike weergawe van hierdie artikel kan gevind word by https://christinprophecy.org/articles/the-interpretation-of-the-book/

In hierdie artikel word die Ou Afrikaanse Bybel vertaling (1933/53) vir alle Afrikaanse bybel aanhalings gebruik.

CONTACT US
Get in touch
with our church

Send us a message

Contact Form Demo
Address
Cape Town
South Africa
Social
Subscribe to get Latest Updates and News
© Copyright Countdown to Christ 2023
Sitemap
cross linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram