2023-04-24

Wat is jou Christelike Hoop? Kan jy dit verwoord?

Deur Dr. David R. Reagan

In 1 Korintiërs 13:13 het die apostel Paulus geskryf dat daar drie kardinale Christelike deugde is - “geloof, hoop en liefde”. Ek het eendag hieroor nagedink, en dit het by my opgekom dat ek al na honderde preke oor geloof en liefde geluister het, maar na baie min oor hoop.

Wat van jou? Kan jy onthou dat jy al 'n enkele preek oor hoop gehoor het? Hoe sou jy jou hoop verwoord? Hoe sou jy dit definieer? Hoe sou jy dit in woorde stel?

Is jy bewus van die feit dat beide die kwaliteit en sterkte van jou hoop direk verband hou met wat jy van Bybel profesieë weet? Dit is natuurlik die rede waarom die meeste Christene so min hoop het. Hulle predikers het God se Profetiese Woord geïgnoreer.

Gebrek aan Hoop

Ek is in 'n Christelike gesin gebore, en ek is in die kerk grootgemaak. Ek is dankbaar dat ek kan sê dat my gesin teenwoordig was elke keer wanneer die kerk se deure oop was - Sondagoggende en aande en Woensdagaande. Asook by elke Vakansie Bybelskool en Evangelie byeenkomste. Tog, na 30 jaar van getroue kerkbywoning, het ek min hoop gehad.

Die predikante in die kerk waarin ek grootgeword het, het selde oor Bybelse profesie gepraat. Gedurende al daardie jare van kerkbywoning het ek nooit een keer die woord, “wegraping” gehoor nie. Nog erger, toe daar oor profesieë gepreek is, is ons eerder Griekse mitologie as Hebreeuse teologie geleer.

Die gevolg was dat as jy my sou vra om my hoop te definieer, ek na al die jare van Bybelonderrig, 'n patetiese antwoord soos die volgende sou gegee het: “My hoop is dat as ek sterf voordat die Here terugkom, my siel sal slaap, en so sal wag vir die opstanding. Wanneer Jesus terugkeer, gaan 'n oerknal plaasvind, wat sal lei tot die uitwissing van die geskape heelal. Op daardie stadium sal my slapende siel wakker word, en ek sal opgewek word om vir ewig saam met die Here te lewe as 'n ontliggaamde gees in 'n eteriese wêreld wat die hemel genoem word. Ek sal my tyd spandeer om op 'n wolk rond te sweef en 'n harp te speel.”

Natuurlik was die belofte van ‘n opstanding die enigste gedeelte van daardie prentjie waarvan ek gehou het. Ek kon nie opgewonde raak daaroor om vir eeue lank in 'n koma in 'n graf te lê nie. Die konsep van ‘n groot ontploffing of “oerknal” het my bang gemaak. Ek was ontsteld oor die idee om my bestaan ​​voort te sit as 'n ontliggaamde gees, 'n eteriese klodder sonder individualiteit.

Ek het die gedagte om vir ewig 'n harp te speel amusant gevind en ook vervelig. Die rede waarom dit my geamuseer het, is omdat die kerk waarna toe ek as ‘n kind gegaan het nie in instrumentale musiek geglo het nie. Om God met 'n instrument te prys, is as 'n sonde beskou. Tog sou ek die ewigheid spandeer om 'n harp te speel! Dit het vir my geen sin gemaak nie, so ek het dit alles as 'n klomp nonsens afgeskryf. Ek het die hele idee by die venster uitgegooi, en daarmee saam, my hoop.

My Ontdekking van Hoop

Jy kan jou dus voorstel hoe opgewonde ek jare later was toe ek God se Profetiese Woord begin bestudeer het, en ek die Here se fantastiese beloftes oor die toekoms begin ontdek het. Ek het oor banke begin spring en van kandelare af geswaai! Mense het gedink ek het oornag deel van die Pinkster kerk geword! Vir die eerste keer het ek opgewonde begin raak oor die toekoms, en my hoop het begin groei.

Kom ek deel met jou van die ontdekkings wat ek in my studie van Bybel profesie gemaak het. Ek dink jy sal hulle opwindend vind, en ek bid dat hulle jou hoop sal bou.

1) Bewussyn— My eerste ontdekking was dat die konsep van sieleslaap onbybels is. Dit is waar dat wanneer ons sterf, ons liggame metafories "slaap", maar die geeste van die dooies verloor nooit hul bewussyn nie.

Dit is duidelik in Jesus se verhaal oor die ryk man en Lasarus (Lukas 16:9-31). Toe hulle gesterf het, het hulle geeste na Hades gegaan. Die ryk man se gees het na 'n kompartement -“pyniging” gegaan. Die gees van Lasarus het na 'n kompartement gegaan waarna verwys word as “Abraham se boesem.” Aan die Kruis het Jesus hierdie kompartement genoem “Paradys” (Lukas 23:43). Die twee kompartemente is geskei deur 'n “groot kloof” wat nie oorgesteek kon word nie.

In Jesus se verhaal word beide mans uitgebeeld as ten volle bewus. Hulle voer selfs 'n gesprek met mekaar. Hulle siele slaap nie.

Paulus het bewussyn na die dood bevestig toe hy geskryf het in 2 Korintiërs 5:8 dat hy sal verkies om “uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon.” Hy het hierdie sentiment herhaal in sy brief aan Filippense waar hy geskryf het “vir my is die lewe Christus en die sterwe wins” (Filippense 1:21). Hy het uitgebrei oor die betekenis van hierdie stelling deur by te voeg dat sy begeerte was “om heen te gaan en met Christus te wees” (Filippense 1:23).

Toe Jesus vir die sondes van die mensdom gesterf het, is die Paradys van Hades na die Hemel verskuif. Paulus getuig hiervan in 2 Korintiërs 12:2 en 4 waar hy verklaar dat hy opgeneem is na die “derde hemel” wat hy identifiseer as “Paradys.” Die Verlostes kon nie direk na die Hemel gaan voor die Kruis nie, want hulle sondes was slegs deur hulle geloof bedek, nie vergewe nie. Hulle vergifnis het gewag op die vergieting van die bloed van Jesus (Hebreërs 9:22).

Dit beteken dat wanneer 'n gelowige vandag sterf, sy siel direk na die Hemel geneem word waar hy in 'n intermediêre geesliggaam woon tot die tyd van die opstanding. Gemartelde gelowiges tydens die Verdrukking word in hul geesliggame uitgebeeld waar hulle voor die troon van God staan, geklee in wit klere en waaiende palmtakke (Openbaring 7:1-9). Hulle is ten volle bewus terwyl hulle sing, “Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” (Openbaring 7:10).

2) Liggame - My tweede ontdekking was dat ons nie as ontliggaamde geeste tot 'n eteriese bestaan ​​bestem is nie. Dit is waar dat ons by die dood 'n intermediêre geesliggaam ontvang wat die Bybel nie in enige detail definieer nie, maar God het belowe dat die Verlostes eendag nuwe verheerlikte liggame sal ontvang.

In 1 Tessalonisense 4:13-18 word ons vertel dat wanneer Jesus terugkom, Hy die geeste sal saambring van diegene wat in Christus gesterf het. Hulle liggame sal in 'n groot wonderwerk van herskepping opgewek word; hulle geeste sal met hulle liggame herenig word; en dan sal hulle liggame verheerlik word. Diegene wat in Christus lewe, sal beweeg word om die Here in die lug te ontmoet. Hulle liggame sal op pad boontoe verheerlik word, sonder om die dood te ervaar.

Wat 'n wonderlike belofte! Dit is geen wonder dat Paulus hierdie gedeelte begin deur te sê dat dit bedoel is om hoop aan gelowiges te gee nie (1 Tessalonisense 4:13). Hy sluit dit af deur te sê : “Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (vers 18).

In 1 Korintiërs 15 openbaar Paulus dat die verheerlikte liggaam sal “onverganklik” wees en “onsterflik”. Die liggaam sal opgewek word in “heerlikheid en krag” en sal deur die gees beheer word, eerder as deur die vlees (1 Korintiërs 15:42-44, 52-54). In Filippense 3:21 sê Paulus verder dat die verheerlikte liggame wat aan gelowiges gegee sal word, sal wees soos die liggaam wat Jesus gehad het na Sy opstanding.

Dink vir 'n oomblik daaroor. Jesus het 'n tasbare liggaam gehad wat aangeraak en herken kon word (Lukas 24:41-43 en Johannes 20:27-28). Dit was ‘n liggaam baie soortgelyk aan die liggame wat ons nou het, en tog was dit ook baie anders. Dit kon deur 'n muur 'n geslote kamer binne gaan (Johannes 20:26), en dit kon teen 'n hoë spoed van een plek na 'n ander beweeg (Lukas 24:30-36).

Sy dissipels was so verbaas en bang en het groot geskrik vir Sy vermoë om te verdwyn en skielik weer op 'n ander plek te verskyn dat hulle gedink het hulle sien 'n gees. Maar Jesus het daardie idee dadelik teëgewerk deur vir hulle te sê : “Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie” (Lukas 24:39).

Om op te som, aan die Verlostes word verheerlikte liggame beloof wat tasbaar, herkenbaar en onsterflik sal wees. Verder is die implikasie van 'n "verheerlikte" liggaam dat dit vervolmaak sal word. Die blindes sal sien; die dowes sal hoor; die kreupeles sal loop; en die verstandelik gestremdes se verstande sal genees word. Daar sal geen pyn of dood meer wees nie (Openbaring 20:4).

3) Aktiwiteite— Gedurende die Duisendjarige heerskappy van Jesus, gaan die Verlostes alles behalwe op wolke rond sweef en harpe speel. Ons gaan saam met Jesus regeer oor diegene wat toegelaat word om die Millennium in die vlees binne te gaan (wat daardie gelowiges sal wees wat aan die einde van die Verdrukking nog lewe). Jesus sal van Jerusalem af oor die hele aarde heers (Jesaja 2:1-4) as Koning van die konings en Here van die here (Openbaring 19:16). Dawid sal in sy verheerlikte liggaam regeeer as die koning van Israel (Esegiël 37:24). Die Heiliges sal oor die aarde versprei word om te help met Jesus se heerskappy (2 Timoteus 2:12).

Elke persoon op aarde wat in 'n posisie van regerende gesag is, sal 'n verheerlikte Heilige wees. Sommige van ons sal in administratiewe posisies wees en in Jesus se heerskappy deel as presidente, goewerneurs of burgemeesters (Lukas 19:11-27). Ander sal as regters dien (1 Korintiërs 6:3).Die meeste van ons sal as "herders" of onderwysers dien, wat probeer om diegene wat gedurende die Millennium gebore is tot geloof in Jesus te bring (Jesaja 66:18-21 en Jeremia 3:15).

In die proses gaan ons geseënd wees om te sien hoe hierdie ou wêreld wat siek is van die sonde, oorstroom word met vrede, regverdigheid en geregtigheid terwyl die waters die see bedek. Ek kan skaars wag!

Die Bybel gaan nie in detail in oor wat ons aktiwiteite sal wees wanneer die Millennium eindig en ons in die Ewige Staat inbeweeg nie. Dit sê eenvoudig dat ons God sal “dien” (Openbaring 22:3). Wat dit ook al beteken, ek is seker dat dit 'n sinvolle en vervullende diens sal wees. Ek sou my voorstel dat een van die dinge wat gaan gebeur is dat ons gawes en talente groter gemaak sal word, en dat ons dit sal gebruik om die Here te verheerlik. So sal 'n sanger kan sing met 'n volmaaktheid wat nog nooit tevore bereik is nie, en 'n skilder sal in staat wees om te skilder met 'n glorierykheid waarvan hy nooit eers oor kon droom nie.

4) Ligging— Waar sal hierdie Ewige Staat wees? Wat sal die ligging daarvan wees? Sal dit in 'n eteriese, geesteswêreld genaamd Hemel wees?

Die meeste Christene is verstom om te ontdek dat die Bybel nooit belowe dat die Verlostes die ewigheid in die Hemel sal deurbring nie. In plaas daarvan sê die Bybel dat die ewige woning van die Verlostes in 'n nuwe Jerusalem sal wees wat op 'n nuwe aarde geleë is (Openbaring 21).

Aangesien die Bybel sê dat die huidige aarde ewig is (Psalms 78:69 en 148:6), het ek tot die gevolgtrekking gekom dat die “nuwe aarde” sal die huidige aarde wees wat deur vuur opgeknap is (2 Petrus 3:12-13).

In plaas daarvan dat ons na die hemel opgaan om vir ewig by God te lewe, sê die Bybel Hy sal aarde toe kom om by ons te woon (Openbaring 21:3). Aangesien die Hemel geleë is waarookal God woon, sal die Hemel aarde toe kom, en slegs in daardie sin sal ons vir ewig in die Hemel woon.

God is lief vir Sy skepping, en Hy is van plan om dit te red, nie om dit met een of ander mitiese “oerknal” te vernietig nie. Hy gaan dit herstel tot die oorspronklike volmaaktheid van toe Hy dit geskep het.

Jesus het aan die Kruis gesterf nie net om die mensdom te verlos nie, maar ook om die skepping te red. Dit is die rede waarom die Hoëpriester in Ou Testamentiese tye die bloed nie net op die versoendeksel gesprinkel het nie, maar ook op die grond (Levitikus 16:15).

Die bloed op die versoendeksel van die ark was 'n simboliese profesie wat daarop gedui het dat die bloed van die Messias God se wet (die tablette binne-in die ark) sou bedek met die barmhartigheid en genade van God. Die bloed op die grond was 'n herinnering daaraan dat die offer van die Messias dit moontlik sou maak dat die Vloek opgehef kon word en dat die diere- en planteryke na hul oorspronklike volmaaktheid teruggebring kon word (Jesaja 11:6-9 en Romeine 8:18-23).

Lewe met Hoop

Wat ek hierbo geskets het, is 'n reeks wonderlike beloftes wat bedoel is om God se mense 'n sterk gevoel van hoop te gee terwyl hulle as vreemdelinge en pelgrims leef te midde van 'n bose, Godverwerpende wêreld (Hebreërs 11:13-16).

Wanneer jy hierdie ongelooflike beloftes lees, kan jy verstaan ​​hoekom Paulus hierdie woorde geskryf het in 1 Korintiërs 2:9 - “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.”

Soos hierdie vers sê - ons kan ons nie eers die wonderlike seëninge voorstel wat God vir die Verlostes beplan nie. Maar in net die volgende vers sê dit dat die Heilige Gees daardie beloftes in God se Woord geopenbaar het.

Dis hartseer dat die meeste Christene onkundig is oor daardie beloftes en daarom geen idee het wat Paulus bedoel het toe hy geskryf het: “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie” (Romeine 8:18).

As jy Jesus as jou Verlosser ken, is jy 'n erfgenaam van ongelooflike beloftes, en as jy daardie beloftes ken en daarin glo, kan jy te midde van hierdie bose wêreld leef met hoop, vreugde en groot verwagting.

CS Lewis oor Hoop (uit sy boek, Mere Christianity)

Hoop is een van die teologiese deugde. Dit beteken dat 'n voortdurende uitsien na die ewige wêreld nie (soos sommige moderne mense dink) 'n vorm van ontvlugting of wensdenkery is nie, maar een van die dinge wat 'n Christen veronderstel is om te doen.

Dit beteken nie dat ons die huidige wêreld moet los soos dit is nie. As jy die geskiedenis lees, sal jy vind dat die Christene wat die meeste vir die huidige wêreld gedoen het, die was wat die meeste aan die volgende wêreld gedink het. Die Apostels self wat die bekering van die Romeinse Ryk afgeskop het, die vername manne wat die Middeleeue opgebou het, die Engelse Christen manne en vroue wat die slawehandel afgeskaf het. Hulle het almal hul merk op die aarde gelaat, juis omdat hulle gedagtes met die Hemel besig was.

Die Belangrikheid van 'n Ewigheids Perspektief 

Dit is vandat Christene grootliks opgehou dink het aan die ander wêreld dat hulle so ondoeltreffend in hierdie een geword het. Mik na die Hemel en jy sal die aarde ook kry. Mik na die aarde en dan kry jy nie een van die twee nie.

Dit klink na 'n vreemde reël, maar iets soortgelyk werk in ander gevalle. Gesondheid is 'n groot seën, maar die oomblik wanneer jy gesondheid 'n hoof fokus van jou maak, begin jy iemand word wat jouself alewig verbeel dat daar iets fout is met jou. Jy sal waarskynlik net gesondheid beleef mits jy ander dinge meer fokus gee. Soos kos, speletjies, werk, pret en tyd in die buitelug spandeer.

Die Verlange na die Hemel

Die meeste van ons vind dit baie moeilik om enigsins na die Hemel te verlang, behalwe wanneer die Hemel beteken dat ons weer ons geliefdes wat al gesterf het gaan sien. Een rede vir hierdie probleem is dat ons nie geleer is om so oor die lewe te dink nie. Ons hele opvoeding is geneig om ons gedagtes op hierdie wêreld te fokus.

Nog 'n rede kan wees dat wanneer ons ‘n werklike behoefte aan die Hemel ervaar, ons dit nie herken nie. Die meeste mense, as hulle regtig geleer het om in hul eie harte te kyk, sou weet dat hulle wel iets wil hê, en dit baie graag wil hê, en dat dit iets is wat nie in hierdie wêreld te kry is nie. Daar is allerhande dinge in hierdie wêreld wat aanbied om dit vir jou te gee, maar hulle kom nooit heeltemal hul belofte na nie.

Die verlange wat in ons ontstaan ​​wanneer ons die eerste keer verlief raak, of vir die eerste keer aan 'n interessante ander land dink, of een of ander onderwerp vir die eerste keer aanpak wat ons opgewonde maak, is verlange wat geen huwelik, geen reis, geen studies, werklik kan bevredig nie. En ek praat nie nou van wat gesien kan word as  onsuksesvolle huwelike, vakansiedae of loopbane nie. Ek praat van die wat suksesvol en aangenaam was.

Daar was iets waaraan ons oorspronklik vasgegryp het, in daardie eerste oomblik van verlange, wat net verdwyn in die helder lig van realiteit. Ek dink almal weet wat ek bedoel. Die vrou is dalk 'n goeie vrou, en die hotelle en natuurskoon was dalk fantasties, en chemie is dalk 'n baie interessante loopbaan, maar iets het ons ontwyk.

Die oorspronklike artikel kan gevind word by: https://christinprophecy.org/articles/what-is-your-christian-hope/

In hierdie artikel word die Ou Afrikaanse Bybel vertaling (1933/53) vir alle Afrikaanse bybel aanhalings gebruik.

CONTACT US
Get in touch
with our church

Send us a message

[fluentform id="1"]
Address
Cape Town
South Africa
Social
Subscribe to get Latest Updates and News
© Copyright Countdown to Christ 2023
Sitemap
cross linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram