2023-08-08

Die Misterie van Lyding

WAAROM LY DIE REGVERDIGES?

Deur Dr. David R. Reagan

Twee dae voor Kersfees lui my foon, met die nuus dat 'n dierbare vriendin haar stryd met leukemie verloor het. Sy het vir amper vyf jaar verskriklik gely. Sy was 'n toegewyde Christen wat gedurende hierdie jare van lyding groot geloof geopenbaar het.

Kort na Kersfees het ek 'n brief van 'n radioluisteraar ontvang. Sy het 'n krisis in haar geloof in die volgende woorde uiteengesit:

Net ’n paar dae gelede is ’n baie goeie vriendin van my se ma buite haar kerk in die nek gesteek en vermoor. Die Skrif praat oor en oor van God se beskerming vir ons, maar tog het ek al verskeie kere verskriklike dinge met God se kinders sien gebeur. Dit maak my onseker oor wat presies God se beskerming vir ons beteken. Moet hierdie skrifte nie letterlik opgeneem word nie? Is hulle nie aan ons gegee om ons hoop te gee en ons aan te spoor om op die Here te vertrou nie?

Hebreërs 11:6 sê:

"As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon."

Daar is niks in die hele lewe wat geloof meer toets as lyding nie – beide aan die kant van die een wat ly en aan die kant van diegene wat moet aanskou hoe 'n geliefde ly.

Daar is altyd die geneigdheid om uit te roep: "Hoekom ek, Here?" Daar is altyd die versoeking om te doen soos Job se vrou voorgestel het – om God te vloek en te sterf (Job 2:9).

Lyding is paradoksaal. Dit het 'n manier om ons te maak of te breek. Dit kan 'n mens omskep in 'n bitter, depressiewe en wraaksugtige persoon wat sy tyd spandeer om sy vuis vir God te skud. Of, dit kan die teenoorgestelde effek hê; dit kan 'n mens dieper en nader aan die Here bring en daardie persoon meer volledig na die beeld van Jesus vorm.

Hierdie reaksie hang af van die kwaliteit van 'n mens se geloof. Soos Billy Graham dit altyd gestel het, "Dieselfde son wat die botter smelt, verhard die klei."

DIE VOORBEELD VAN JOB

Maar hoekom moet die regverdiges ly? Dit is 'n moeilike vraag. Die Bybel is vol van voorbeelde van regverdige mense wat geweldig gely het. Esegiël sê dat Job een van die drie mees regverdige manne was wat nog gelewe het. En tog, wie het al ooit gely soos Job?

Job se ongelooflike lyding is vererger deur sy sogenaamde vriende wat na hom toe gekom het en dit alles op sy sondes geblameer het. Hulle beskuldigings was ongeregverdig, want die heel eerste vers van Job sê hy was “vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy”.

Ongelukkig is die vriende van Job vandag springlewend en gesond, gretig om al ons terugslae - al ons lyding - op ons persoonlike sondes te blameer.

Later het 'n ander vriend van Job hom 'n gedeeltelik korrekte antwoord gegee op die rede vir sy lyding. Hy het gesê dit was met die doel om Job in geregtigheid te louter.

Ek noem dit 'n "gedeeltelik korrekte antwoord" omdat die Bybel duidelik leer dat lyding ons geestelik kan verfyn as ons harte werklik aan God oorgegee is.

Kyk na hierdie woorde van Paulus, 'n ander regverdige man wat baie swaar gely het (Romeine 5:3-4):

"...Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop;"

Job het gely om in geregtigheid gelouter te word. Maar daar was 'n ander, belangriker en uiteindelike rede vir sy lyding.

Terwyl Job voortgegaan het om uit te roep: "Hoekom ek, Here?" het die Here uiteindelik aan hom verskyn en op sy vraag gereageer met 'n lang reeks vrae:

Waar was jy toe ek die hemel en die aarde geskep het? Waar was jy toe ek die leeu laat ontstaan ​​het met my woorde? Waar was jy toe ek die sterre in die ruimte gehang en hulle name gegee het? (Sien Job 38-41.)

Om op te som - die Here was besig om te sê: "Wie is jy om My te ondervra?"

ANDER BYBELSE VOORBEELDE

God beantwoord nooit die vraag: “Hoekom ek, Here?” nie. In plaas daarvan roep Hy die vraagsteller op om op sy geloof te steun en te vertrou dat God die beste weet en dat alles ten goede meewerk vir diegene wat die Here ken (Romeine 8:28).

Dus, toe Habakuk uitgeroep het: "Hoekom ek, Here?" Het die Here geantwoord:

“...die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe”

(Habakuk 2:4).

Toe Paulus uitgeroep het: "Hoekom ek, Here?" Het die Here geantwoord:

“My genade is vir jou genoeg”

(Korintiërs 12:9).

Dit is moeilike antwoorde. Hulle roep ons op tot harde geloof - die soort geloof wat my vriendin so kragtig in haar lyding gedemonstreer het.

REDES VIR LYDING

Daar is geen twyfel dat ons soms ly as gevolg van ons eie sondes nie. Maar baie van die lyding wat ons in die lewe ervaar, is weens ander redes.

· Ons ly omdat ons in 'n gevalle wêreld leef wat korrup gemaak is deur die sonde van die mens.

· Ons ly omdat lyding ons louter in geregtigheid.

· Ons ly omdat lyding ons weerhou daarvan om verlief te raak op hierdie bose wêreld en daarom ons help om 'n ewigheids perspektief te behou, wat ons herinner daaraan dat ons vreemdelinge moet wees wat slegs deur hierdie wêreld reis na 'n beter lewe in 'n nuwe, volmaakte wêreld.

· Ons ly omdat lyding ons motiveer om hard op die Here te steun en op Hom te vertrou soos ons nog nooit voorheen gedoen het nie.

· Ons ly omdat die geloof wat ons te midde van lyding toon eer en glorie aan God bring.

En, ja, ons ly vir redes wat net aan God self bekend is.

GOD SE BELOFTE

God belowe nooit dat die regverdiges nie sal ly nie. Maar wat Hy wel beloof aangaande lyding is iets groot. Hy belowe dat Hy saam met ons deur die lyding sal stap en ons die genade en krag sal gee om dit met oorwinning te hanteer. In Psalm 23 sê Hy dat Hy sal met jou wees, al gaan jy ook deur ‘n dal van doodskaduwee. In Jesaja 43 sê Hy dat Hy saam met jou deur die hoë waters sal gaan en saam met jou deur die vuur sal loop. As my vriendin nou met ons kon praat, is ek seker sy sal getuig dat God getrou was aan hierdie beloftes in haar eie lewe.

LYDING WAT GEDEEL WORD

Maar laat ons in gedagte hou dat my vriendin nie alleen gely het nie. Haar man en kinders het saam met haar gely. En deur daardie gedeelde lyding het daar 'n dieper en meer betekenisvolle gemeenskap binne hul familie ontstaan.

Hulle tye saam te midde van die lyding was kosbaarder as ooit tevore. Hulle het saam gehuil. Hulle het saam gelag. Hulle het saam gebid. En deur dit alles het hulle meer lief geword vir mekaar. Hulle het ook geestelik gegroei.

My vriend se man en kinders sal nou ‘n spesiale tipe deernis hê teenoor diegene wat ly, op ‘n manier wat enige gevoel sal oortref wat hulle ooit sou kon ontwikkel het sonder hul eie ervaring van lyding. Hulle het deur die vuur gegaan, God het saam met hulle gegaan, en in die proses is hulle uniek voorberei om ander wat swaarkry te bedien. In die toekoms sal hulle die lyding van ander kan omhels en sê: "Ek weet hoe jy voel." En deur daardie eenvoudige daad sal hulle die liefde van Jesus op 'n besondere en unieke manier kan bedien.

LYDING EN HOOP

Daar is een laaste punt wat ek graag wil maak - uit die skrif van vroeër, Romeine 5. Waar dit sê:

“ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop”

Hoe op aarde bring lyding uiteindelik hoop voort? Die antwoord is regtig baie eenvoudig. Terwyl ons in geloof op die Here steun tydens ons lyding, leer ons dat Hy getrou is aan Sy beloftes om by ons te wees en ons te onderhou en ons te vertroos en te versterk. Dit motiveer ons dan om nog groter geloof te hê in die beloftes wat Hy gemaak het oor die lewe wat kom – ons hoop dat ons opgewek en verheerlik sal word en vir ewig by ons Hemelse Vader sal lewe.

Daarom kon Paulus, waneer hy van die wederkoms van Jesus praat, met absolute vertroue sê in Romeine 8:18 :

“Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.”

Die oorspronklike weergawe van hierdie artikel kan gevind word by https://christinprophecy.org/articles/the-mystery-of-suffering/

In hierdie artikel word die Ou Afrikaanse Bybel vertaling (1983) vir alle Afrikaanse bybel aanhalings gebruik.

CONTACT US
Get in touch
with our church

Send us a message

[fluentform id="1"]
Address
Cape Town
South Africa
Social
Subscribe to get Latest Updates and News
© Copyright Countdown to Christ 2023
Sitemap
cross linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram