‘n Uitdaging vir jou - berei voor vir Sy spoedige wederkoms.
Deur Dr. David R. Reagan
In die Bybel staan duidelik geskryf dat die samelewing agteruit sal gaan gedurende die eindtye, dat hulle net so vol van boosheid sal wees as in die dae van Noag (Matteus 24:37-39). Die Apostel Paul, wanneer hy in sy hoedanigheid as profeet praat, sê dat die samelewing sal afsink in ‘n swart put van immoraliteit, geweld, en paganisme (2 Timoteus 3:1-5). Hy voer aan dat mense sal “liefhebbers van hulleself wees, geldgierig en liefhebbers van genot”. Mense sal “grootpraters, trotsaards en onheilig” wees en kinders sal “ongehoorsaam aan hulle ouers” wees.
Dit klink amper soos die nuus saans op TV, of hoe? In kort, hierdie tyd het aangebreek, dis nou.
Tekens van die komende vervolging
Ons moet diep bekommerd wees oor hierdie verwikkelinge. Nie net omdat ons die vernietiging van ons geliefde nasie beleef nie, maar ook omdat beide Jesus en Paulus geprofeteer het dat wanneer hierdie dinge gebeur, die Kerk onder aanval sal kom en die individuele Christen vervolg sal word.
Jesus sê dat wanneer wetteloosheid vermeerder, “sal die liefde van die meeste verkoel” (Matteus 24:12). Hy sê dat menigte belydende Christene sal “tot struikel gebring word” in hierdie vyandige atmosfeer en sal dan deel word van die vervolging van hulle voormalige broers en susters in Christus (Matteus 24:10). Paul dui dieselfde ding aan wanneer hy sê dat mense sal “sonder liefde vir die goeie” wees en hulle sal daarom “wreed” en “roekeloos” word, beledigend teenoor die wat staan vir geregtigheid (2 Timoteus 3:2-4).
Ons sien deesdae hoe hierdie profesieë waar word voor one eie oë, reg rondom die wêreld. Soos ons kultuur meer en meer sekulêr en heidens geword het, het Christenskap, die kerk, en Christene al hoe meer aangeval geword as “intolerante haters”. Die aanvalle gaan vererger, en dit gaan al hoe moeiliker raak vir Christene om te staan vir geregtigheid. Werke sal verloor word. Loopbane sal vernietig word. Christene sal selfs tronk toe gestuur word wanneer hulle opstaan teen bose dinge soos homoseksualiteit, omdat dit as “haatspraak” bestempel sal word.
Wat dan moet die van ons wat lief is vir Jesus doen terwyl ons meer en meer bespotting, teistering, en vervolging vir ons geloof beleef? Hoe moet ons lewe vir Christus in die eindtye? Laat ek ‘n paar riglyne voorstel.
1) Orden Jou Prioriteite - Begin deur jou prioriteite te hersien en maak seker dat God eerste in jou lewe is. Wees eerlik met jouself. Nou is nie ‘n tyd vir speletjies speel nie.
Meeste Christene het toegelaat dat hulle prioriteite heel skeef getrek is. Gewoonlik is jou werk of loopbaan nommer een, familie tweede, en God dan derde of selfs vierde, agter een of ander obsessie soos sport of iets soortgelyks.
Vra jouself af: As God jou die kans sou gee om een versoek aan Hom te stel, wat sal dit wees? Sou jy vir geld vra? Mag? Roem? Sukses?
Salomo het vir wysheid gevra, maar Dawid het vir iets gevra wat soveel meer werd is - hy het vir intimiteit met God gevra (Psalm 27:4). En omdat hy God eerste geplaas het, verklaar hy in Psalm 27 dat hy nie die lewe (vers1) of dood (vers 13) vrees nie. Dit is ook die rede waarom hy onthou word as iemand wie God beskryf as “‘n man na my hart” (Handelinge 13:22).
2) Staan op die Woord - Die Bybel verklaar dat die eindtye ‘n tyd van misleiding sal wees (Matteus 24:24, 1 Timoteus 4:1, en 2 Timoteus 4:3-4). Die profesie word so vervul - deesdae word ons oorval met vals en aanloklike godsdienstige sisteme van Christelike kulte, Oosterse godsdienste, en die New-Age beweging.
Meeste belydende Christene is oop vir geestelike misleiding omdat die gemiddelde Christen nie seker is wat presies hy glo nie. En selfs wanneer hy kan verbaliseer wat hy glo, weet hy gewoonlik nie waarom hy dit glo nie. Dit lei daartoe dat Jehovah se getuies die gemiddelde Christen vinnig deurmekaar kan praat.
Enige iemand kan mislei word. Om jouself teen misleiding te beskerm is dit belangrik om die Woord te bestudeer en daarmee besig te bly op ‘n daaglikse basis. Toets ook alles teen die Woord (1 Johannes 4:1). Vir Katolieke gelowiges sal dit beteken om van leerstellings soos die vaevuur te laat gaan, wat geen basis in die Woord het nie. Vir Protestante sal dit beteken om waaksaam te wees teen die verdraaiing van bybelverse of die manipulasie van verse buite hulle konteks. Daar moet oor elke leerstelling deur die Bybel gesoek word, van Genesis tot Openbaring, om te kyk wat opgeteken is oor hierdie spesifieke onderwerp.
3) Glo in die Krag van God - Ek is oortuig daarvan dat meeste belydende Christene deÏste is. ‘n Deïst is iemand wat glo in ‘n onpersoonlike God wat nooit betrokke raak in die dinge van mense nie. Volgens Deïsme moet ons regkom met ons god-gegewe rede, ons talente en die wysheid van die geskrifte. Volgens deïste het God afgetree aan die einde van die Eerste Eeu, die bonatuurlike het opgehou en die tyd van wonderwerke het tot ‘n einde gekom.
Maar die Hebreeuse Geskrifte leer dat God nooit verander nie (Maleagi 3:6). En in die Nuwe Testament staan spesifiek geskryf “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8).
Daar is geen manier wat ons in ons eie krag die boosheid van die samelewing in die eindtyd kan hanteer nie. Enige iemand wat dit so probeer aanpak sal verslaan word. Ons enigste hoop is om na ‘n God te draai wat waarlik lewendig is, wat steeds op die troon sit, wat gebede hoor en hulle antwoord, en wat steeds wonderwerke doen.
Ons moet besef dat die Bybel leer dat ons God met ons ongeloof kan beperk. Dit is ‘n groot paradoks. Dink hieroor na - alhoewel God almagtig is (Lukas 1:37), kan ons, wat in vergelyking magteloos is, steeds Sy krag deur ons ongeloof beperk. (Markus 6:1-6). Dis omdat God ‘n ware heer is. Hy forseer nie homself op ons nie. As ons op ons eie dinge wil probeer hanteer, dan sal Hy ons dit laat doen. Hy reageer wanneer ons in geloof na Hom toe uitreik. (Jakobus 1:6)
4) Hou vol in Gebed - Een van die grootste seëninge wat God gelowiges gegee het is bonatuurlike kommunikasie. God gee persoonlik vir ons om (1 Petrus 5:7), en Hy begeer om met ons te kommunikeer (Jakobus 4:8). Omdat Hy lief is vir ons begeer Hy opreg om tyd saamet ons te spandeer (Johannes 4:23).
Die tragedie is dat meeste belydende Christene blyk om gebed as ‘n laaste opsie te beskou - hulle draai slegs daarna wanneer alles anders nie gewerk het nie en die situasie desperaat geraak het. Sommige van hierdie onwilligheid om na God te gaan in gebed is as gevolg van trots, en dus vermaan die Bybel ons menigte kere om onsself te verootmoedig (1 Petrus 5:6). Ander maak nie staat op gebed nie as gevolg van ongeloof. Hulle dink dat God nie omgee nie, of anders dink hulle dat Hy nie meer aktief besig is tussen ons nie.
Maar die Bybel sê - “julle het nie, omdat julle nie bid nie” (Jakobus 4:2). Hoeveel seëninge van God het jy gemis omdat jy probeer het om dit self te hanteer? Die Bybel sê ook “Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag” (Jakobus 5:16). Beteken dit vir jou dat die krag van jou gebede afhang van jou geregtigheid? Want dit is nie wat dit beteken nie. As jy werklik wedergebore is, dan is jy ‘n regverdige persoon omdat jy geklee is in die geregtigheid van Jesus (Jesaja 61:10).
5) Vertrou op die Heilige Gees - Meeste belydende Christene blyk om bang te wees vir die Heilige Gees. Dit is gewoonlik omdat hulle kennis aangaande die Gees gebrekkig is. Daar is byvoorbeeld ‘n geneigdheid om die Heilige Gees af te skryf as ‘n tipe onpersoonlike krag - soos “The Force” in Star Wars.
Ons moet verstaan dat die Heilige Gees ‘n persoon is. Hy is die bonatuurlike teenwoordigheid van God in vandag se wêreld. Hy speel ‘n dubbele rol. Vir die ongelowige is Hy God se Evangelis. Hy is die een wat in mense se harte werk om hulle nader aan die Kruis en tot bekering te bring. Niemand word gered apart van die getuienis van die Helige Gees nie (Johannes 6:44 & 65).
Met betrekking tot die gelowige, is die Heilige Gees God se inwonende teenwoordigheid wat vir ons krag en leiding voorsien. Hy is ons instaatsteller. Hy is ook God se Pottebakker - een van Sy basiese verantwoordelikhede is om daagliks gelowiges meer en meer te vorm na die beeld van Jesus (2 Korintiërs 3:17-18).
Een van die ironië van die Christelike lewe is dat ons nie vir God kan dien in ons eie mag nie. Die enigste manier wat ons die Here effektief kan dien is om op die Heilige Gees, wat binne ons tuisgaan, se krag staat te maak. Dit is moonlik om die gees te bedroef en te blus (1 Tessalonisense 5:19 en Efesiërs 4:30).
Die Woord leer dat ons vervul met die Gees moet wees (Efesiërs 5:18). Dit kan net gebeur indien ons bereid is om die Gees vrye teuels te gee om die Here van ons lewens te wees. Meeste van ons is tevrede daarmee om hom net as ‘n inwoner in ons lewe te hê. Maar Hy wil nie net ‘n inwoner wees nie, Hy begeer om die president te wees.
Is dit die geval in jou lewe? Sit die Heilige Gees op die troon van jou lewe? Of word Hy as ‘n onwelkom gas gehanteer? Daar is geen manier om die druk van die eindtyd samelewing te weerstaan sonder om daagliks op die krag van God se Gees staat te maak nie.
6) Pas Tawwe Geloof Toe - Geloof kom maklik wanneer alles seepglad verloop. Wanneer goeie gesondheid en voorspoed ervaar word, is dit maklik om die Here te loof. Maar die toets van ons geloof kom wanneer ons lewensomstandighede moeilik is.
God het nie aan gelowiges ‘n roostuin belowe nie. Ons lewe in ‘n gebroke wêreld. Die reën val op beide die regverdige en die onregverdige. Die bose ervaar voorspoed. Geregtigheid seëvier selde.
Dit is maklik vir die regverdige om moedeloos te raak. Dit is wanneer tawwe geloof toegepas moet word - die tipe geloof wat nie van omstandighede afhang nie. Dis die tipe geloof wat aanhou selfs wanneer dinge regtig moeilik raak, ‘n geloof vol van vertroue in wat Romeine 8:28 verklaar: “ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk”.
God het nooit belowe dat gelowiges nie swaar sal kry nie. Wat Hy wel belowe is dat Hy daar saam met ons sal wees, om saam met ons deur die moeilike tye te loop. Hy belowe om langsaan ons te wees “As jy deur die water gaan” en “as jy deur die vuur gaan” (Jesaja 43:2). En Hy verklaar dat Hy daar sal wees “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee” (Psalms 23:4).
Wat is die kwaliteit van jou geloof? Wanneer die lewe moeilik raak, draai jy na God, of bevraagteken jy Hom, of dalk vloek jy Hom selfs? Een van die sleutels om aan te hou wanneer dinge moeilik gaan, is om die beloftes van God se Woord (soos Filippense 4:6-7, 11-13 en 19) te leer en dit te begin eien in gebed wanneer jy gekonfronteer word met die uitdagings van die lewe.
7) Hou ‘n Ewigheids Perspektief - Ons moet in die wêreld wees, maar nie van die wêreld nie (Johannes 17:11 & 16). Dis ‘n moeilike beginsel om te volg. Dit verg ‘n daaglikse stryd.
Dit is so maklik om ons oë van die Here af te haal en eerder op die wêreld waarin ons lewe te fokus. Die druk van wat daagliks van ons verwag word is so groot. En een van die grootste van daardie verwagtinge is dat ons moet aanpas by die wêreld - by die wêreld se taalgebruik, manier van aantrek, vermaak, en beginsels.
Dis waarom ons gereeld in die Woord vermaan word om onsself as “bywooners en vreemdelinge”, wat net deur die aarde beweeg, te sien (Hebreërs 11:13 en 1 Petrus 2:11). Ons word aangesê om te “bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie” (Kolossense 3:2). En ons word gewaarsku om nie lief vir die wêreld te word of gemaklik met dit nie (Romeine 12:2 en 1 Johannes 2:15-16). Jesus sê ons moet “ons lewe haat in hierdie wêreld” (Johannes 12:25), en Sy broer, Jakobus, het gesê “die vriendskap van die wêreld is vyandskap teenoor God” (Jakobus 4:4).
Wat beteken dit om die wêreld te haat? Dit beteken dat ons die bose wêreld sisteem wat heers in die samelewing haat. Ons moet die sisteem wat geweld en immoraliteit verheerlik en die waarde van lewe afbreek en nie hoog ag nie, haat.
Soos C. S. Lewis eens gesê het, “Ons moet lewe soos kommandos in vyandige grondgebied, wat die weg voorberei vir die koms van die Opperbevelhebber.” In ander woorde gestel, in ons lewe moet ons smag na die dag wanneer Jesus gaan kom uit die hemele om vrede, regverdigheid en geregtigheid te bring na die aarde toe.
8) Kyk uit vir Jesus - Dit bring ons by die finale riglyn wat ek graag wil uitlig aangaande hoe om vir Jesus te lewe in die eindtyd. Die Bybel sê duidelik dat ons moet lewe met verwagting en “uitkyk vir Jesus” (Titus 2:13).
Meeste Christene is so vasgevang in die wêreld dat hulle dink aan alles anders behalwe die terugkoms van Jesus. Dit is ‘n hartseer toedrag van sake omdat Jesus se terugkoms ons “salige hoop” (Titus 2:13) is. En Sy terugkoms is op hande.
Nog ‘n probleem is dat meeste Christene so min van die Bybelse profesië weet dat hulle nie opgewonde raak oor die Here se terugkoms nie. Hoe kan jy opgewonde raak oor ‘n gebeurtenis wat jy niks van weet nie? Onkunde veroorsaak apatie.
En apatie oor die Here se terugkoms het tragiese gevolge. Dit steel ‘n ewigheids perspektief van ons, en vernietig enige gevoel van dringendheid om verlore siele te bereik. Dit ondermyn ook ‘n kragtige motiveerder vir ‘n heilige leefstyl.
Want wanneer ‘n persoon werklik glo dat Jesus terugkom en dat dit enige oomblik kan gebeur, dan is daardie persoon gemotiveerd om heiligheid na te streef en om te evangeliseer.
Aangaande heiligheid - die Apostel Johannes het dit so gestel: “maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, ons aan Hom gelyk sal wees…En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Johannes 3:2-3). In vers 2 verwys “as Hy verskyn” na Sy wederkoms en “aan Hom gelyk sal wees” na ware gelowiges, wat ook dan verheerlik sal wees.
Aangaande evangelisme - Petrus skryf dat die enigste rede hoekom Jesus nog nie terug gekom het nie is omdat “God wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Petrus 3:9).
‘n Geestelike Spieël
Paulus gee ons ‘n geestelike spieël vir hoe om in die eindtye op te tree. Hy sê dat ons moet “goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Titus 2:12-13).
Wat sien jy wanneer jy in hierdie spieël kyk? Loop jy in God se wil? Het jy jou prioriteite so georden dat jy God eerste stel? Staan jy op God se Woord en toets jy alles teen dit? Glo jy in ‘n persoonlike en almagtige God, wat omgee en wat gebede hoor en hulle antwoord, en steeds wonderwerke laat gebeur? Maak jy daagliks staat op die krag van die Heilige Gees? Pas jy tawwe geloof toe, en weier dat die rampe van die lewe jou onderkry? Hou jy ‘n ewigheids perspektief, en weier jy om gemaklik met hierdie wêreld te word? En kyk jy daagliks uit vir Jesus? Is die wegraping in jou hart? Is “Maranata!” op jou lippe?
Hulpbron
Living for Christ in the End Times by Dr. David R. Reagan
Die oorspronklike weergawe van hierdie artikel kan gevind word by https://christinprophecy.org/articles/living-for-christ-in-the-end-times/
In hierdie artikel word die Ou Afrikaanse Bybel vertaling (1933/53) vir alle Afrikaanse bybel aanhalings gebruik.